Elke mens op aarde wil graag hê dat iemand daar buite opreg vir hulle moet lief wees. Party soek ’n leeftyd na so ’n kosbare verhouding, terwyl ander gelukkig genoeg is om dit wel te vind.

Jauni M se splinternuwe enkelsnit, LIEFDE SOOS DAGBREEK, gaan oor die tipe liefde wat net een keer in ’n leeftyd aan jou deur kom klop en wat jy met beide hande moet aangryp. “Dit gaan oor ware, rare liefde. ’n Liefde so mooi soos dagbreek,” verklap die sangeres oor die tema agter haar nuutste vrystelling. “Geen dagbreek is natuurlik ooit dieselfde nie, maar wel mooi en uniek op sy eie manier.”
LIEFDE SOOS DAGBREEK is ’n Afrikaanse kontemporêre snit, uit die pen van Emil Struwig, en is by Manley Recording Studiosopgeneem en deur Active Music Publishing vervaardig. Dit is een van daardie liedjies wat jou hoendervleis gee wanneer jy dit vir die eerste keer hoor en sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme, omdat dit so ’n belangrike en universele onderwerp aanspreek. “Soos die dagbreek, verskil elke liefdesverhouding van mekaar, en is dit wat elke paartjie deel vir hulle spesiaal en kosbaar,” voeg sy by.

Jauni M se nuutste vrystelling volg kort op die hakke van haar eerste enkelsnit, Niemand Anders, ’n country-popsnit met ’n rock-ondertoon, wat haar stem soos ’n handskoen pas. Dié opgewekte treffer is geskryf deur Zanda Traut en Deon Meiring en is baie goed ontvang. Nie net het dit al op die treffersparades van verskeie radiostasies gepronk nie, maar die musiekvideo is ook tans op die kassie te sien.
Beide liedjies is geneem vanaf haar eerste solo-album, Niemand Anders, wat op 7 Junie 2019 vrygestel word. Dit gaan spog met dertien snitte, wat ’n kombinasie gaan bied tussen opgewekte lekkerluisterdeuntjies en dieper hartsmusiek. “Hierdie is nie sommer net ’n gewone Afrikaanse popalbum nie, maar my storie in musiek. Al die liedjies het emosionele diepte en ’n spesiale betekenis. Die musiek is eerlik en gaan oor regte dinge wat in my of iemand wat ek ken se lewe gebeur het,” deel sy. Sonder Jou, ’n duet saam met Deon Meiring wat reeds speeltyd op die radio gekry het, sal ook op dié album beskikbaar wees.

Jauni M woon in Parys in die Vrystaat saam met haar man en dogtertjie. Haar liefde vir sing is reeds op ’n jong ouderdom gebore en sy was van kleins af mal daaroor om haar huismense te vermaak met liedjies. Sy is ’n avontuurlustige mens, met ’n waaghalsige streek en voorliefde vir aktiwiteite wat haar hart vinniger laat klop. Die brunet is al vir tien jaar doenig in die musiekbedryf en het al die voorreg gehad om saam met groot name te werk, soos Ruhan du Toit van Touch of Class.
Wanneer sy nie sing nie, bestuur sy en ’n vriendin ’n winkel in Parys met die naam Fish2Feet. Sy het ook oor die jare al by verskeie groot feeste en funksies opgetree en die verhoog met talle bekendes, soos Kwaggabees en Roan Ash, gedeel.

Hierdie veelsydige en talentvolle meisie van die platteland se grootste hoop, is dat luisteraars hulleself sal vind in die stories van haar musiek. LIEFDE SOOS DAGBREEK beloof nie net om binnekort ’n treffer te wees by troues en danse nie, maar ook om die harte van musiekliefhebbers van alle ouderdomme vas te vang. Die kombinasie van treffende lirieke, ’n strelende stem en opgewekte wysie is die perfekte bestanddele vir ’n treffer wat nog vir jare hierna die rondte gaan doen.
LIEFDE SOOS DAGBREEK is beskikbaar op alle digitale platforms. Kry die liedjie hier:
iTunes: https://itunes.apple.com/za/album/liefde-soos-dagbreek-single/1463196056
Spotify: https://open.spotify.com/album/01MTlwvRW7wSr1oo5Hn4bT?si=hwC54TR3RaGGtrLE8qsgUA
Deezer: http://www.deezer.com/album/96513062
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/Jauni.M.Artist01
Twitter: @JauniM
Instagram: @jaunim
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCOrYlt__PkOdkk8RVjSeoCA
Foto Krediet: Natasha Bouma