VALESKA MULLER – DAAR WAAR ONS STAAN

“DIT IS NET WARE VRIENDE WAT JOU HART KEN EN REGTIG OMGEE”, SÊ VALESKA MET NUWE ENKELSNIT

In moderne tye, is dit maklik om duisende kennisse op sosiale media te hê. Dit is egter net ware vriende, wat jou hart ken en regtig omgee, wat bereid sal wees om deur dik en dun by jou te staan. Valeska Muller se splinternuwe enkelsnit gaan oor dié handjievol mense wat regtig saak maak.

DAAR WAAR ONS STAAN is ’n polsende elektroniese popsnit wat dit regkry om die vrolikheid van vriendskap vas te vang. Dis ’n spanpoging deur die sangeres en haar vervaardiger, BIGG-T, wat haar strelende stem, die opregte lirieke en ’n meesleurende wysie perfek kombineer om ’n merkwaardige eindresultaat te skep.

“Hierdie lied gaan oor vriendskap. Ware vriende, wat verby jou foute kyk en jou onvoorwaardelik aanvaar en liefhet vir wie jy is,” verduidelik die kunstenaar. “My vriende verskil almal hemelsbreed en is so uiteenlopend soos die klere in my kas. Al is hulle van verskillende ouderdomme en agtergronde, het elke een ’n spesiale plek in my hart.”

Volgens Valeska het grendeltyd haar veral laat besef hoe kosbaar die vriendskappe in haar lewe is, daarom glo sy dat hierdie snit definitief by luisteraars sal aanklank vind. “Ons het almal vriendskap nodig. Dit beteken baie vir my as iemand opreg in my belangstel sonder om iets in ruil te verwag. Ek is dankbaar vir al die ongelooflike vriende en vriendinne in my lewe,” sê sy.

Volgens BIGG-T is daar nie nog ’n liedjie in Afrikaans wat soos hierdie een klink nie en is die boodskap baie relevant. “Toe ons dit geskryf het, was daar nog nie COVID-19 gewees nie. Die lirieke is egter baie gepas vir die tye waarin ons tans leef, omdat dit jou gerusstel dat jy nooit alleen is nie en dat daar altyd iemand sal wees as jy hulp nodig het.”

DAAR WAAR ONS STAAN volg in die voetspore van haar vorige enkelsnit, Naby My Naby Jou, wat uitstekend ontvang is en vir weke lank op die treffersparades van verskeie radiostasies gepronk het. Die pragtige musiekvideo, wat oudergewoonte deur Saint Nic Media vervaardig is, kan ook steeds op die kassie gesien word.

Beide snitte vorm, saam met haar vorige treffers: Verlange van Jou, Skyn Jou Liggie Vir My en Verdwaal Saam Met Jou, deel van haar album – My Simfonie – wat hier aanlyn beskikbaar is:  https://orcd.co/bgglpq9

Valeska, is geensins onbekend nie en buiten vir die feit dat een van haar liedjie as temalied van die program, ’n Ster Vir My Bed, op Via TV gebruik is het sy al talle hoofrolle in verskeie verhoogproduksies, asook televisieprogramme soos Binnelanders, Generations en Roer Jou Voete gehad.

Sy besit haar eie musiekskool – Valeska Muller Vocal Academy (VMVA) – en werk al negentienjaar in die musiekbedryf.

Tydens die afsonderingstydperk het sy besig gebly met selfoonklasse vir haar studente, aanlynvertonings, radio-onderhoude, kosmaak, Netflix-kyk, video-oproepe met vriende en hope oefening. Sy het nog baie planne vir die toekoms, maar vir nou fokus sy op die bemarking van haar nuutste enkelsnit en om positief te bly oor die toekoms.

“Mense dink, oor die algemeen, dat dit maklik is om ’n sanger te wees. Dit is ongelukkig nie waar nie en dikwels is dit ’n gejaag tussen opnames en optredes. Valeska weet egter waaroor dit gaan. Sy doen waarvoor sy lief is en ek het geen twyfel dat die toekoms nog baie vir haar inhou nie,” sluit BIGG-T af.

Valeska het met ons gesels en meer gedeel oor haar sukses en ook inspirasie vir haar nuwe enkelsnit.

Jou nuwe enkelsnit gaan oor mense wat saak maak, hoekom het jy besluit om oor hulle te skryf?

Hierdie enkelsnit gaan spesifiek oor vriendskap. Ons vertrou op vriendskappe vir baie dinge: geluk, bevestiging van ons waarde, gesondheid en welstand. Daar was geen periode in die geskiedenis van die mens waar dit nie die geval was nie en nou nog meer as ooit het ons verhoudings nodig wat ons in die epidemie kan ondersteun en help.

Wie van hierdie mense sou jy se was vir jou die meeste inspirasie?

Elke persoon in my lewe inspireer my op ‘n ander manier. Elkeen van ons het ‘n storie van oorwinning. Elke vriendin/ vriend speel ‘n ander rol in my lewe en hulle is so uiteenlopend soos die klere in my kas en al is hulle van verskillende ouderdomme en agtergronde het elke een ‘n spesiale plek in my hart. Sonder my vriende sou die lewe nie so lekker gewees het nie, dit is verseker. Hulle almal weet hoe om my weer moed in te praat en my dag optekikker.
Wat was jou inspirasie vir die melodie vir jou nuwe enkelsnit?

Ek wou ‘n melodie gehad het wat beide die gevoel van gelukkigheid en hartseer vasvang en dis toe wat ek op uit gekom het. Die klank is vir my nostalgies en lekker om na te luister.

Hoe baie beteken vriendskap vir jou in vandag se tye?

In moderne tye, is dit maklik om duisende kennisse op sosiale media te hê. Dit is egter net ware vriende, wat jou hart ken en regtig omgee, wat bereid sal wees om deur dik en dun by jou te staan. Op die einde van die dag gaan die lewe oor dié handjievol mense wat regtig saakmaak. Almal van ons smag na ‘n waardevolle vriendskap waar jy ten volle jouself kan wees sonder om ‘n masker te dra of a filter op te sit.

Watse inspirasie hoop jy sal mense uit jou nuwe enkelsnit kry?

Ek hoop dat hierdie lied en die musiek video mense sal inspireer om beter vriende vir mekaar te wees en om vriendskappe op te pas en na mekaar te kyk, want dit is regtig al wat saakmaak in hierdie wêreld!  Alles anders kan weggeneem word in ‘n sekonde.  Wees lief vir mekaar en staan saam – ons het dit nou meer nodig as ooit te vore. Die grendeltyd het my veral laat besef hoe kosbaar vriendskappe is, daarom glo ek dat hierdie snit definitief by luisteraars sal aanklank vind.

Daar waar on staan volg in die voetspore van jou vorige enkelsnit Naby My Naby Jou. Watse boodskap hoop jy sal mense van beide liedjies ontvang?

Altwee die liedjies is voelgoed liedjies. Naby My Naby Jou gaan oor ware liefde en Daar Waar Ons Staan gaan oor ware vriendskap. Twee baie belangrike dinge wat ons almal na smag. Jy kan arm wees maar as jy ware liefde en vriendskappe besit is jy die rykste mens op aarde.

Met soveel jong talent in ons land watse boodskap van hoop en inspirasie het jy vir hulle?

Werk hard aan jou musiek en wees bereid om aan te hou leer. Vind ‘n goeie mentor wat jou sal ondersteun en uitdaag. Moenie geld en roem na jaag nie…’ all that glitter ain’t gold’. Doen jou musiek vir die regte redes en vertel jou STORIE. Daar is altyd kritiek maar moenie moed verloor nie. Dit vat jare se harde werk vir ‘n overnight’ success.

 

Kyk gerus haar nuwe Musiek Video hier: https://youtu.be/NYLHSXAfhJY

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/ValeskaMullerSinger/
Instagram: @valeskamuller
Twitter: @Valeskamuller
TikTok:  @valeskamuller

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *