FRANCOIS VAN RENSBURG – TWEE WÊRELDE

BEKENDE RADIO-OMROEPER STEL NUWE ENKELSNIT EN MUSIEKVIDEO VRY

Die bekroonde radio-omroeper en musikant, Francois van Rensburg, se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo is pas vandag bekendgestel en is reeds besig om soos ’n veldbrand onder sy aanhangers versprei.

TWEE WÊRELDE gaan oor verandering en dié tema is heel gepas vir die omstandighede waarin Suid-Afrikaners hulleself tans bevind. “Die titel van die liedjie is ironies in die tyd waarin ons leef, want dit is geskryf en opgeneem net voor die staat van inperking aangekondig is,” deel hy. “Daarom is die liedjie juis relevant, veral wanneer jy dink aan die uiteenlopende wêreld waaraan ons gister gewoond was, maar moes verruil vir vandag se realiteit.”

Hierdie treffende snit was ’n gesamentlike poging deur Francois en Joe Foster, wat ook die liedjie vervaardig het. Volgens die kunstenaar, wat nog altyd groot bewondering en respek gehad het vir Joe se talent, het die saamskryfproses lekker gevloei en was dit vir hom ’n groot voorreg om saam met dié ster te werk.

“Wanneer ’n mens as liedjieskrywer saam met iemand werk, is dit belangrik om respek te hê vir die ander persoon. Jy werk met jou waarheid en dit is dus belangrik om mekaar te vertrou. Die proses saam met Joe het natuurlik gebeur en ek dink dit is wat hierdie liedjie so spesiaal maak. Alhoewel hy my die vryheid gegun het om my eie stempel af te druk tydens die skryf- en opnameproses, kan ek duidelik sy invloed in die musiek hoor en ek hoop om gou weer saam met hom te werk.”

Francois verklap dat TWEE WÊRELDE geïnspireer is deur sy pa se dood, maar dat dit meer as een betekenis het en ook van toepassing kan wees op verhoudings wat verander. “Solank die liedjie die luisteraar op reis vat en iets laat voel, is ek tevrede. Die woorde en melodie is daar vir persoonlike interpretasie.”

Die musiekvideo van die snit is ook vandag bekendgestel en is sorgvuldig beplan om die eerlikheid en kwesbaarheid van die liedjie weer te gee. Die video is deur Giant Squid Films (Optog!), by die Pierneefteater in Pretoria, verfilm en wys Francois wat alleen op die verhoog sing sonder ’n gehoor.

“Die skote is intiem en Kyle Wood (die regisseur) het my so natuurlik en eerlik as moontlik probeer lei, sodat die geloofwaardigheid en gevoel van die liedjie se lirieke spontaan kon oorkom. Verder is daar baie rondgespeel met interessante beligting en skaduwees,” verduidelik hy. “Dit is die eerste keer wat ek ’n enkelsnit en video gelyktydig vrystel en ek is kinderlik opgewonde hieroor. Die video dui op die twee wêrelde wat die titel suggereer.”

Kyk die video hier: https://youtu.be/b_nATiS3zho

Francois het in ’n huis grootgeword waar die radio altyd gespeel het en glo dat dit is waar sy groot liefde vir musiek ontstaan het. Toe hy later in sy lewe wou uiting gee aan sy idees en emosies, het hy dit dus in die vorm van wysies en lirieke gedoen.

Alhoewel hy eintlik ’n voltydse radio-omroeper is, het hy in 2010 sy eerste professionele opname deur Wouter Venter laat doen en oor die jare het sy stokperdjie ’n roeping geword. Volgens hom, geniet hy dit die meeste om ballades te sing, omdat hy lief is daarvoor om stories te vertel en oor dieper temas te skryf. Hy vind aanklank by kunstenaars wat hulle eie musiek skryf en meen dat dit vir hom ’n groot hoogtepunt was om teenoor Richard van der Westhuizen in ’n radioverhaal te kon speel.

Francois erken hy dat hy ’n wye musieksmaak het, maar dat Coenie de Villiers se werk nog altyd ’n groot invloed op hom gehad het. Jak de Priester, Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Elton John en Robbie Williams word ook uitgesonder as van sy grootste inspirasies.

Wanneer hy nie besig is met sy eie musiek nie, gee hy erkenning aan die ander hardwerkende musikante daar buite met sy weeklikse radioprogramme, Lunch Punch (daagliks) en die bekroonde Gister se Grotes (Sondae), en maak hy tyd om oorklankings te doen vir animasierolprente, om oudisies te doen, saam met vriende te kuier, motorfiets te ry en liedjies te skryf.

Gister se Grotes het in 2019 en 2020 Suid-Afrikaanse Radiotoekennings ontvang vir Beste Naweekprogram én Beste Musiekprogram op ’n Gemeenskapradiostasie.

Francois van Rensburg het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis sy passie vir musiek en harde werk wat hom gebring het tot waar hy nou is.

Die sanger glo dat musiek grense kan oorskry en hy wil graag eerlike musiek maak wat hy uit sy hart uit bedoel. TWEE WÊRELDE voldoen aan beide hierdie vereistes en besit al die eienskappe van ’n lekkerluister-treffer, wat nog vir jare oor die radio gehoor gaan word.

Ons het met Francois gesels om meer van sy musiekwêreld uit tevind.

Vanaf ’n bekroonde radio omroeper na ’n liedjie skrywer, hoekom het jy besluit om in die musiekwêreld te gaan? 

Ek dink min mense weet dat ek eintlik al lankal sing. Ek was direk na skool betrokke by die ensemble geselskap in musiekblyspele van Deon Opperman, soos Tree Aan! Ons Vir Jou & Jesus die Blyspel. In 2010 het ek ‘n album opgeneem saam met Wouter van de Venter en sedert 2013 het ek elke jaar omtrent ‘n liedjie of drie vrygestel, wat almal steeds op iTunes beskikbaar is en meeste ook op radio speel. Ek probeer elke jaar iets nuut uitbring, maar omdat ek nie net ‘n sanger is nie, is dit vir my beter om singles uit te gee. Dis vir my lekker om te weet dat my musiek iewers op ‘n radiostasie speel of dat ‘n video van op televisie roteer. Musiek is en was nog altyd ‘n stokperdjie wat ek ernstig opneem. Ek hou daarvan om stories te vertel en musiek gee vir my ‘n platform om my eie gedagtes en emosies met ander mense te deel.

Wat was jou inspirasie vir jou enkelsnit Twee Wêrelde? 

Die liedjie het by die titel ontstaan. Joe Foster (wat die liedjie vervaardig het) en ek, ken mekaar so deur die bedryf. Ons het die afgelope ruk naby aan mekaar gebly en by ‘n informele kuier het ek vir hom van my konsep vertel en gevra of hy dalk sal kan help om dit uit te brei. Ons het toe ‘n skryfsessie vasgemaak en saam gewerk aan die idee. Die boodskap het begin by my pa se dood, ek wou graag iets sê daaroor, want ‘n mens wonder oor daai twee wêrelde waarin jy en die persoon wat fisies naby aan jou was, mekaar eweskielik bevind. Maar die tema kan ook deurgetrek word na ‘n liefdesverhouding of ander persoonlike ervarings.

Watter boodskap hoop jy sal mense uit jou nuwe enkelsnit kry? 

Solank hulle iets voel en die liedjie hulle eie maak is ek tevrede. Joe het vir my gesê ek kan met minder lirieke meer sê en daarom wil ek nie een spesifieke boodskap daaraan koppel nie. Mense moet self besluit waaroor dit vir hulle gaan…

Wat was van jou hoogtepunte om die musiek video te skiet? 

Dit het vreemd gevoel om die video te skiet. Dit was tydens vlak 3 van inperking en ons het toestemming gekry om die video by die Pierneefteater te verfilm. Kyle Wood, Coenrie Willemse & Anel Wood van Giant Squid Produksies was verantwoordelik vir die video. Dit was toevallig, want die liedjie is in Februarie geskryf, voordat ons geweet het dat ons regtig in 2020 in Twee Wêrelde sal wees wat ons realiteit tans en voor Covid-19 aanbetref… So ek het op die verhoog gesit en vir ‘n leë gehoor gesing. Ek dink dit het bygedra tot nog ‘n tema wat vir ons in die tyd relevant was, sonder dat dit spesifiek so beplan was.

Wat sou jy sê maak jou ’n trotse Suid Afrikaanse musikant? 

Ek is baie lief vir Afrikaans. Dis so ‘n beskrywende taal en ek vind dit altyd natuurlik om iets in Afrikaans te skryf. Maar die musiek in ons land is so divers en dit maak my trots om te weet dat ons as Suid-Afrikaners nie in ‘n boksie gedruk kan word nie.

Daar is soveel jong talentvolle musikante in ons land, watter boodskap van hoop en inspirasie het jy om met hulle te deel? 

Volg jou passie en onthou hoekom jy begin het. Kry ook ‘n opsie twee en drie, want min mense kan net musiek maak in ons land, of selfs in die wêreld. As jy vir die regte redes begin, sal die res volg en sal jou besigheid ook stelselmatig groei. Ek dink ook jong musikante besef nie die belangrikheid van bemarking nie. Dis een ding om ‘n goeie produk of liedjie te hê, maar maak seker jy omring jou met die regte mense wat kan help om jou musiek ook daarbuite te kry. Vir Twee Wêrelde het ek gaan aanklop by Starburst Promotions om my te help met die verspreiding en bemarking van die liedjie en video. As niemand van jou hoor nie, gaan niemand van jou weet nie…

Wat is volgende vir Francois as musikant in die toekoms? 

Solank ek kan aangaan om elke paar maande iets nuut op te neem en vry te stel is ek gelukkig. Dis lekker om ‘n digitale platform te hê, wat nie vroeër jare daar was vir musikante nie. Ek plaas geen druk op myself om ‘n nommer 1 treffer na te jaag of ‘n topverkoper te wees of die meeste shares en streams aanlyn te kry nie. Ek skryf en sing omdat ek dit geniet en omdat ek ‘n boodskap wil oordra. Ek probeer ook getrou bly aan myself, maak nie saak of dit tien mense of tien-duisend bereik nie.

Die liedjie is ook nou hier op alle digitale platforms beskikbaar:

Spotify:

https://open.spotify.com/track/3H22b2TXTkLAaG3QdNEY4S?si=osUXyxH3QwS6wNdjQSWW1w

Deezer:

http://www.deezer.com/album/156038612

Apple Music:

http://itunes.apple.com/album/id1519628131?ls=1&app=itunes

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/francois.vanrensburg.9/

Instagram: @francoisvrens

Twitter: @FrancoisvRens

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCZ8QQdLUPdqbhIIJlp2UD8w?view_as=subscriber

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *