Ontmoet Lizette Volkwyn. Lizette is ‘n energieke, dinamiese en doelgerigte vrou wat daarin glo dat al wat jy vandag moet doen, is om net 1% beter te wees as gister. Sy glo in selfaanvaarding, sy doen nie reëls nie, sy dra áltyd twee verskillende oorbelle en haar naels is ook áltyd in verskillende kleure geverf. Benoemings en toekennings skeel haar min. Haar grootste strewe is om ‘n verskil in mense se lewens te kan maak.
Lizette is een van slegs twee gesertifiseerde PEI-leuenverklikkers in Suid-Afrika en alhoewel hierdie gedeelte van haar werk as menslike leuenverklikker vir ander intimiderend kan wees, stel sy jou sommer gou gerus dat sy nie altyd “aan diens” is nie. “Natuurlik is daar soms tekens wat my opval wanneer ek sosiaal verkeer, maar ek verkies om nie daarop te reageer nie. Dis eenvoudig, my werk is nie om mense as leuenaars uit te wys nie, maar om hulle te help om hulself te ontdek, en hul uniekheid met selfvertroue vir die wêreld te wys. Ek wil my vaardighede gebruik om kommunikasie te verbeter.”
Die algemene persepsie is dat jy leuenaars kan identifiseer deur hoe hulle klink of optree, maar kenners weet dat dit nie heeltemal so eenvoudig is nie. Alhoewel ’n klein wit leuentjie – soos om oor jou gunsteling-kleur te jok – meestal min gevolge het, kan ’n ernstige leuen – soos om oneerlik te wees oor die kwalifikasies op jou CV – verrykende gevolge hê.
Dit bemoeilik veral sake wanneer maatskappye hoëvlak-poste, met groot salarisse, moet vul. Hoe moet ’n onderhoudvoerder immers weet of ’n persoon regtig so goed en geleerd is soos wat hy of sy op papier lyk?
Gelukkig is dit hoekom daar mense soos sy is. Sy fokus hoofsaaklik op korporatiewe kliënte en bied profieldienste aan as deel van die onderhoudproses vir hoë-vlak poste. “As menslike leuenverklikker fokus ek op deursigtigheid. Ek is aan die beginfase betrokke wanneer onderhoude vir baie duur aanstellings gedoen word. Indien sekere aspekte gedurende hierdie fase nie sin maak nie, kan hulle dit aanspreek en die beste moontlike kandidaat vir die pos kry,” deel sy. Verder kan sy ook help in gevalle waar witboordjiemisdaad vermoed word.
Omdat sy altyd opsoek is na nuwe uitdagings en geleenthede, het Lizette – wat al vir jare as meesterlewensafrigter spesialiseer – ’n paar jaar gelede besluit om die strawwe opleiding te ondergaan om ’n menslike leuenverklikker te word. Haar kursus het uit 29 kandidate uit 27 lande bestaan, waarvan 24 van intelligensiedienste was. Haar besluit is verder gemotiveer deur ’n behoefte om ’n unieke vaardigheid aan te leer om haar kliënte beter te verstaan en sodoende vinniger resultate te lewer.
“As lewensafrigter gaan mense vir jou goed wegsteek wat ’n invloed het op hulle vordering. Om in staat te wees om hierdie leuens raak te sien, kan ek kliënte vinniger help,” verduidelik sy. “Hierdie is ’n unieke eienskap en dit is baie bevredigend om resultate te bereik waar dit nie andersins moontlik was nie.”
Lizette is ’n veelsydige vrou wat na meer as twee dekades in die korporatiewe bedryf besluit het om haar passie na te jaag en haar eie konsultasie-agentskap te begin. “Ek is passievol oor mense en na baie jare in die korporatiewe omgewing, het ek ’n behoefte gehad om hierdie passie te ontgin – om vir mense die lewensgereedskap te gee om hulleself uit hul omstandighede te lig en met selfvertroue hulle lewens te bou,” sê sy. Daarna het sy die nodige kwalifikasies ingepalm om hierdie droom te verwesenlik en in 2012 haar meesterlewensafrigter-kursus voltooi. Sy het dit opgevolg met ‘n waarheid- en kredietwaardigheidsertifikaat in 2013 en in 2020 het sy ook ’n kursus in positiewe sielkunde voltooi.
Deesdae werk sy nie net as menslike leuenverklikker nie, maar ook as lewensafrigter en bied sy opleiding aan in bemarking, leierskap, kommunikasie en aanlyn bemarking, asook werkswinkels en selfontdekking en groepsopleiding. Verder het sy ook al as spreker opgetree by geleenthede regoor die wêreld en is sy die skrywer van die boek, Finding Me, wat handel oor selfontdekking en -ondersoek. “Die doel van my boek is om mense te help om hulleself ten volle te aanvaar en hul uniekheid met selfvertroue met die wêreld te deel.”
Hierdie merkwaardige vrou, het al met kliënte in meer as 20 lande gewerk en die verhoog gedeel met internasionale denkleiers. Sy is ook ’n gereelde gas op nasionale radioprogramme en internasionale podsendings.
Tans is haar hooffokus om die waarheidverklikkingsaspek van haar besigheid aan maatskappye bekend te stel, maar sy het nog baie planne vir die nabye toekoms. “Ek wil graag aan die begin van volgende jaar ’n nuwe groep lewensafrigters oplei. Ek is ook in die proses om ’n niewinsgewende organisasie te stig (Cinderella’s Dream) wat gaan fokus op Afrikaanse tienermeisies. Laastens is ek ook baie opgewonde om my eie produkreeks bekend te stel, wat joernale, dagboeke en motiveringskaartjies gaan insluit.”
Lizette woon in Kempton Park, saam met haar man van 36-jaar, het drie kinders en vyf kleinkinders.
Volg haar gerus op sosialemedia:
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook – www.facebook.com/confidentlyfindingme
Instagram – @lizette_volkwyn
Twitter – @LizetteVolkwyn
Webblad – www.lizettevolkwyn.com
Krediet: Santie Korf Photography