Michael oor “Droom”, die eerste enkelsnit vanaf sy nuwe album: Tussen Hier En Die Kaap:
“Die feit dat hierdie song gekies is as die eerste enkelsnit van die album, is vir my amper profeties, want hierdie vrystelling is die verwesenliking van ’n droom wat ek vir baie jare saam met my dra.
Die liedjie begin met die woorde: ‘Ek sien ‘n lig daar op die horison wat skyn’, en alhoewel die woorde gerig is op n liefdesverhouding, beteken dit vir my veel meer. Vir my is dit ’n metafoor van hoop. Hoop dat jou drome waar sal word. Hoop om te weet dat die uitdagings en onsekerhede van die lewe, deel is van die reis. Hoop dat jy geseënd sal wees om geliefdes rondom jou te hê wat hierdie reis saam met jou sal meemaak.
My gunsteling woorde van hierdie liedjie is: ‘graveer jou naam hier op my hart.’ Om iets te graveer is permanent. Dit is iets wat nie ongedaan gemaak of uitgevee kan word nie.
Op my ouderdom het ek die goeie en die slegte van die lewe beleef en ek is baie geseënd om ’n hele paar mense te hê wie se name op my hart gegraveer is. My pragtige twee kinders, kleinkinders, vriende en vriendinne.”
Luister na waaroor Michael verwys by die skakel: https://www.youtube.com/watch?v=iRt42_S-wgQ.
Tussen Hier en die Kaap
Die oorheersende tema van die album is liefde, hartseer en dan als wat tussen dit kan gebeur. Almal van ons het terugslae, gebroke harte en liefde ervaar. Hierdie album sal die luisteraar deur ’n verskeidenheid emosies neem rondom die tema van liefde en vriendskap. Die musiek is geskryf en verwerk deur Harold Schenk en debuutskrywer, Angelique Schickerling, het daarin geslaag om die emosie van elke komposisie, opreg en sonder pretensie in Afrikaans te verwoord.
Michael se reis
Michael se ouers was baie lief vir musiek en stel hom reeds van ’n baie jong ouderdom bloot aan die kontemporêre musiek van daardie tyd. Hy toon ook van vroeg af ’n talent vir sing en skoolkonserte, talentkompetisies, kerkgeleenthede en eistedfods word sy voorland tydens sy kinderjare. Hy het selfs op hoërskool as gas van ’n baie bekende SAUK TV-program, Kraaines, aangebied deur Carike Keuzenkamp, deelgeneem. As jong man het hy sy eie orkes gestig waarin hy die kitaarspeler en sanger was.
Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf het in daardie jare bestaan uit orkeste wat bespreek was om die verskeie sangers te begelei. Backtracks het nie bestaan nie en hy was gelukkig om in vele van die orkeste as kitaarspeler te speel en sing. So het hy die land plat getoer en die verhoog gedeel met vele bekende sangers en sangeresse van daardie era.
Alhoewel hy dit baie geniet het, het hy hom ernstig begin toespits op sy loopbaan in die finansiële sektor en sy musiekdrome moes hy vir eers bêre.
Sy passie vir musiek het altyd diep in sy hart gebrand en ’n paar jaar gelede het hy besluit om sy droom te verwesenlik. Hy het aangeklop by sangeres en steminstrukteur, Amanda Luyt en sy het hom voorgestel aan musiek-regisseur, Harold Schenk. Harold was onder andere verantwoordelik vir produksies van Coleske, Coenie de Villiers, Andre Swiegers en Danie Niehaus en vele ander bekende Afrikaanse kunstenaars. Saam het hulle begin werk aan n projek en so het sy droom uiteindelik gestalte gekry. Droom asook die volledige album Tussen Hier en die Kaap is nou op alle digitale platforms beskikbaar.