Die perfekte kombinasie van passie en talent help dit om drome in realiteite te verander. Die sanger en liedjieskrywer, Lillia Lessev, beskik oor hope van beide en het gedurende Junie 2021 ’n nuwe enkelsnit uitgereik waarmee sy dit bewys! Soos verwag is, is die snit uitstekend ontvang deur radio wêreldwyd en word haar jong talent oraloor deur media geloof!
GODDESS is ’n liedjie oor selfliefde en bemagtiging – dit is ’n vrolike popsnit met ’n kragtige boodskap, waarmee sy mense regoor die wêreld wil inspireer!
“Ek wil luisteraars herinner dat hulle nie moet toelaat dat ander mense hulle aftrek of waardeloos laat voel nie, want daar gaan altyd iemand wees wat probeer. Niemand van ons is perfek nie, maar jou ervaringe maak jou wie jy is! Dra dit soos ’n kroon, want dit is wat jou sterk en spesiaal maak.”
Die lirieke: “Take your throne; Show them who you are; In your ball gown and your battle scars (Gaan sit op jou troon; Wys hulle wie jy is; In jou balrok en met jou letsels)” lê Lillia baie na aan die hart. “Ek is mal oor hoe bemagtigend hierdie lirieke is! Jy moet jou ervaringe, pyn en letsels soos ’n koningin dra en trots wees op wie jy is!”
GODDESS is dié begaafde sewentienjarige se sesde enkelsnit en kom, net soos haar vorige vrystellings, uit haar eie pen. Net soos met haar vorige enkelsnitte, is GODDESS deur Gideon Botes vervaardig. “Elke keer wat ons saam werk, is ek verstom oor Lillia se stem en die volwassenheid van haar liedjies. Ek is baie opgewonde om deel te wees van hierdie talentvolle kunstenaar se musiekreis,” sê hy.
Volgens Lillia, het elke liedjie wat sy skryf ’n spesiale plek in haar hart. “My liedjies verskil hemelsbreed van mekaar, maar elkeen het sy eie bekoring en spesiale betekenis. Ek is mal oor GODDESS omdat dit lekker is om na te luister en ’n boodskap het wat aanklank vind by oud en jonk. Dit is ’n boodskap aan mense om trots te wees op wie hulle is en die lewe met krag en passie aan te pak. Ek is baie trots op die liedjie en hoop dat mense net so baie daarvan sal hou soos ek!”
Hierdie dapper, veelsydige tiener is opgewonde oor die toekoms. “Ek hou aan om as sanger en liedjieskrywer te groei en ontwikkel. Ek probeer altyd om grense te verskuif met my musiek en is konstant besig om nuwe liedjies te skryf en uit te pluis wat my bewonderaars volgende wil hoor.”
Dit is dan ook hoekom Lillia besluit het om iets nuut te probeer vir GODDESSse video. “Ons het besluit om ’n liriekvideo te doen, wat baie modern en lekker is om na te kyk!”
KYK DIE VIDEO HIER:
Lillia is deel van ’n musikale gesin, wat dekades gelede van Bulgarye na Suid-Afrika verhuis het, en is vandat sy baie klein is doenig in die musiekbedryf. Sy neem al sangles by Jolanda Becker vandat sy twaalf is, skryf haar eie musiek en speel ook kitaar, klavier en ukelele.
Sy het haar debuut-enkelsnit, Heartbeat, in 2018 vrygestel waarmee sy in dieselfde jaar opslae gemaak het tydens haar vertoning by Jacaranda Day. Daarna het sy nog twee liedjies – Losing My Mind en Rusted uitgereik. Laasgenoemde is ingeskryf vir ’n Britse Liedjieskryfkompetisie en het vir haar, in twee kategorieë, ’n plek in die finaal besorg. Heartless en Ghosts het ’n paar jaar later gevolg en is baie goed ontvang deur plaaslike radiostasies en musiekliefhebbers.
Haar ouers het haar nog altyd aangemoedig om haar eie oorspronklike styl musiek te maak. “Hulle het my nog altyd die geleentheid gegee om my drome te volg en my geleer om my hart te volg, ongeag van wat ander mense dink of sê.”
Hulle geloof in haar, asook Lillia se talent en passie, is wat haar motiveer om sukses te bereik. “Ek weet dat ek nou eers aan die begin van my loopbaan staan en dat daar nog baie opwindende dinge vir my wag. Sover is ek baie trots en dankbaar dat ek musiek kan maak en vrystel. Dis wonderlik om te sien hoe mense aanklank vind by my musiek en om te sien hoeveel platforms my ondersteun. Ek beplan om nog baie nuwe musiek die wêreld in te stuur en hopelik sal ek eendag nog die voorreg hê om regoor die wêreld op te tree en saam met my bewonderaars te sing.”
GODDESS is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Laai dit hier af: https://music.apple.com/za/album/goddess-single/1572610635
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/LilliaLessevOfficial/
Instagram: @lillialessev
Twitter: @LilliaLessev
Webblad: http://www.lillialessev.com/
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES