Is blokraaie nou gewilder as voorheen? Is dit tans ‘n modegier?
Blokraaie was nog nooit uit die mode nie. Ek stel reeds vir tien jaar blokraaie op en die afgelope tien jaar het blokraaitydskrifte konsekwent onder die topverkoper-tydskrifte in Media24 se Leefstyl-afdeling geval. Dit is egter so dat die huidige omstandighede, waar baie mense gespanne is en dikwels tuis moet bly, blokraaie ekstra gewild maak. Die winter was nog altyd “blokraaiseisoen”.
Is blokraaie net vir bejaardes? Wie vul almal blokraaie in?
Jy sal verras wees! Dit is glad nie net bejaardes wat dit invul nie. Ek gesels dikwels met jongmense wat my aanvat oor ’n blokraai wat “te moeilik” was. Oorsee het al die top-universiteite blokraaiklubs (soos debatsverenigings) wat meeding aan blokraaitoernooie. Dis ’n tydverdryf vir jonk en oud wat ’n stokperdjie soek wat jou ’n bietjie uitdaag, maar ook vermaak. Veral die koms van aanlyn blokraaie het die blokraaigemeenskap uitgebrei. Jy hoef nie meer toegang tot ’n gedrukte publikasie te hê om die blokraai in te vul nie. Jy kan jou selfoon nadertrek en speel. Ek dink plaaslik gaan huisgenootraaisels.co.za dieselfde doen om die blokraaigemeenskap te laat uitbrei.
Hoe kan beginners aan die gang kom?
Ek dink begin met blokraaie waar jy die antwoorde byderhand het. Dis frustrerend aan die begin om ’n week of ’n maand te wag vir die oplossing, soos dit dikwels die geval is in gedrukte publikasies. Koop dus een van daardie losstaande blokraai-tydskrifte, soos Huisgenoot Grootblokraaie (die oplossings van die raaisels is agterin die boek), of gaan na huisgenootraaisels.co.za (daar is ook ’n gratis pakket). By die digitale raaisels is daar knoppies wat jy kan druk om vir jou een woord of een letter in die raaisel in te vul. Omtrent ’n kwart of ’n derde van elke raaisel bestaan uit maklike antwoorde. Begin by hulle. As jy dan vashaak, gebruik die kulknoppies of blaai na die oplossings. Jy sal merk dat jy later al hoe minder hoef te “kul” om dit in te vul. ’n Mens raak blokraaifiks.
Hoe stel jy dit op? Hoe lank vat dit?
Ons gebruik deesdae rekenaarprogramme om ons te help om die rame te pak. Dit neem my tussen twee en drie uur om ’n groot blokraai (soos die een wat in Huisgenoot verskyn) op te stel. Van die ander neem gelukkig minder tyd. Jy spandeer ook baie ure daaraan om jou woordelyste op datum te hou en uit te brei. Jy kan nie ’n goeie blokraai bou sonder ’n goeie woordelys nie. Ek bou voortdurend aan verskillende woordelyste vir verskillende publikasies sodat elkeen sy eie styl kan hê.
Watter rol het blokkiesraaisels in vroeer jare gespeel om mense deur pandemies in die verlede te help?
Dis nogals ’n interessante vraag. Die eerste blokraaie is in 1913 gepubliseer, maar dit was nog nie algemeen beskikbaar met die griep-pandemie van 1918 nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was blokraaie al wêreldwyd bekend. Jy kry baie leesstof oor hoe blokraaie mense in daardie tyd gehelp het om kop te hou. Blokraaie is selfs gebruik om kode-ontleders te werf wat ’n direkte rol in die oorlog gespeel het. Daar is ook nou heelwat artikels beskikbaar oor die rol wat blokraaie speel om mense tydens die Covid-pandemie te help “cope”. Ek dink ’n groot rede daarvoor is: In ’n tyd dat dinge ongelooflik deurmekaar is, is dit baie bevredigend as jy iets wat moeilik is, kan klaarmaak. En blokraaie gee jou daardie geleentheid. Waar jy met romans, flieks en TV-reekse langer moet konsentreer, kan jy met blokraaie vir ’n kort rukkie afskakel.