Die lewe is soos die liefde, vol van tweede kanse en weer probeer. Die titelsnit van my debuutalbum, Dromerlaan, is nooit as ’n enkelsnit vrygestel nie. Die liedjie het altyd by my bly spook, want ek onthou die tydperk waarin ek dit aanvanklik geskryf en opgeneem het so goed.
Op daardie stadium in my lewe wou ek so graag ’n sanger word, maar het gou besef dat ’n musiekloopbaan op sy eie nie noodwendig volhoubaar is nie. Steeds het ek my passie gevolg en deur die jare aanhou liedjies opneem en vrystel. Ek het onlangs teruggekeer na hierdie een en besef die tema van toe, bly vandag steeds relevant : Verlore liefde, wat iewers langs die pad verdwaal het.
’n Storie van twee mense wat elk ’n ander afdraaipad kies, deur die liefde te verloën. Daarom het ek dit weer opgeneem en stuur ek dit in 2022 as ’n tipe liefdesbrief die wêreld in. Miskien spoel dit soos ’n vergete boodskap in ’n bottel uit die oseaan en beland dit op die ore van iemand wat bestem is om te hoor… Wie weet, dalk gewaar die meisie met die vaalbruin hare en verbleikte blommetjiesrok, tog weer eendag die ou met sy stukkende Datsun. En wag daar ‘n tweede kans op liefde.
Droom voort.
Francois van Rensburg
Musiekbesonderhede:
Titel: Dromerlaan
Kunstenaar: Francois van Rensburg
Musiek & lirieke: Francois van Rensburg / Wouter van de Venter
Uitgewer: SAMRO
ISRC kode: ZB-TE0-22-00002
Musiekverwerking: Wouter van de Venter
Stemopname en finale meng: Andrew Roos
Agtergrondstemme: Carlé van Deventer (Weber)
Klavier: Clinton Waring
Kitare: Wouter van de Venter / Juan ‘Floors’ Oosthuizen
Baskitaar: Wouter Reyneke
Dromme: Vinnie Henrico
Mastering: Rogan Kelsey – Kelsey Mastering