Venetia Rose bewys almal verkeerd en reik nuwe enkelsnit uit, ten spite van gehoorprobleem

’n Skoenlapper is ’n universele simbool van skoonheid, transformasie en genade. Alhoewel dié insekte broos voorkom, is hulle eintlik baie sterker as wat ’n mens dink. Dit is dan ook hierdie konsep wat aanleiding gegee het tot die sangeres en liedjieskrywer, Venetia Rose, se nuwe enkelsnit, SKOENLAPPER.

Venetia, wat met ’n gehoorprobleem gebore is, wou nog altyd nét sing. Op die ouderdom van twee het sy die lied ‘Any Dream Will Do’ gehoor en geweet wat haar lewensdoel was. “Niemand het egter geglo dat ek my droom sou kon bewaarheid nie, want ek kon nie eers goed hoor nie, wat nog van sing,” erken sy.

Maar hierdie jong vrou het nooit moed opgegee nie. Haar passie vir musiek en sing was groter as die aanhoudende kritiek wat sy regdeur haar skoolloopbaan moes verduur. “Mense het dikwels vir my gelag,” sê sy. Sy het besluit om daaroor te bid. Volgens haar móés God haar gebed gehoor het en haar stembande met dieselfde olie gesmeer het as die engele s’n, want binne maande daarna het haar stem begin verander. Selfs haar eie Ma kon dit nie glo nie!

En so fladder hierdie skoenlapper vanaf ’n baba wat met ’n gehoorprobleem gebore is en “nooit sal sing nie”, Swede toe waar sy in 2015 haar stem en musiek met die inwoners gaan deel! In 2016 tree sy saam met CROC by Innibos op en in 2017 stel sy haar debuut-album, My Wish, bekend en dit word sowaar vir ’n Ghoema-toekenning benoem, terwyl haar tweede album – Immortality – met ’n Afri-Indie-musiektoekenning bekroon word in 2021!

Skoenlapper het ook pas ‘n nominasie ontvang vanaf die Afri-Indie SA Onafhanklike Kunstenaartoekennings 2022 in die kategorie, Beste Klasieke Enkelsnit. Hierdie toekenningsaand vir plaas op 12 April 2022 by die Afriforum Teater.

Buiten vir al die struikelblokke en stereotipering wat sy deur die jare in haar sangloopbaan beleef het, het die Pretoriaanse musikant ook nog op ’n persoonlike vlak swaargekry as gevolg van die feit dat hulle as gesin baie rondgetrek het en aan fisiese en emosionele mishandeling onderwerp was. “Dit kon van my ’n hartseer en bitter mens gemaak het, maar God het vir my gesê: ‘Jy is sterker as dit, want ek het jou geskape’”.

En dit is presies waardeur hierdie hartroerende enkelsnit geïnspireer is. SKOENLAPPER , wat op haar tweede album – Immortality – verskyn en geskryf is in samewerking met Andre van Wyngaardt, gaan daaroor dat God elkeen van ons uniek gemaak het, maar dat ons dit nie altyd raaksien nie. “In plaas daarvan om iemand anders se skoonheid te begeer, moet ons die feit koester dat ons almal mooi en sterk is”, verduidelik sy.

Die liedjie waarvoor haar broer, Kelvin Klopper die agtergrondmusiek saamgestel het en waarvan die opname deur Robin Fernie behartig is, spreek veral kwessies aan soos ’n lae selfbeeld of om in ongesonde situasies vasgevang te wees. Sy is ook baie dankbaar vir die hulp wat sy van haar Oupa Joe, Dirkie van Staden en die multi-bekroonde musiekvervaardiger, Andrew Roos, van Brak Musiek gekry het.

Alhoewel dit ’n geestelike boodskap het, meen Venetia Rose dat dit nie oorheersend Christelik is nie, maar eerder ’n boodskap is uit die hart. SKOENLAPPER herinner ons aan God se liefde en genade. Dit leer ons dat ons almal wonderwerke is, ongeag van ons omstandighede!” 

Keuses speel ’n groot rol in die kunstenaar se lewe. “Jy kan kies of jou omstandighede jou bitter en onaangenaam gaan maak en of jy bo daardie omstandighede gaan uitstyg en ’n suksesvolle toekoms gaan bou”. Hierdie oortuiging dryf haar om haar drome te volg. “Met vergifnis, geduld, toewyding, vasberadenheid en God se genade het ek gekom waar ek vandag is. Ek moes leer om nooit minderwaardig te voel nie, en om nie te luister na diegene wat nie God se plan verstaan nie.”

Sy is tans besig om te werk aan ’n nuwe enkelsnit saam met Rudi Claase en bestuur ook haar eie aanlynwinkel, Something Rosie Creations, wat spesialiseer in tuisgemaakte geskenke. Verder het Venetia Rose ook begin foto’s neem en bied sy sanglesse aan vir kinders. “Ek sien uit daarna om weer op te tree en daar is ook ’n musiekvideo vir SKOENLAPPER in die pyplyn. Ons is ook reeds besig om te werk aan my volgende album.” 

SKOENLAPPER is nou aanlyn beskikbaar. Laai dit hier af:

Apple Music: https://music.apple.com/za/album/skoenlapper/1615690800?i=1615690801

SPotify: https://open.spotify.com/album/4w8ncf57IK1V7sypkFxYTa?si=wtz_059AS8SeBp46X8cJ8A

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/venetiaroseofficial/

Instagram: @venetiaroseofficial

Twitter: @VenetiaRose

YouTube: Venetia Rose official

SoundCloud: https://soundcloud.com/venetiaroseofficial

TikTok: @venetiaroseofficial

Webblad: www.venetiarose.co.za (under construction)

Foto Krediet: PICTURE PERFECT STUDIOS (Liezel Scheppel)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *