Net ’n paar maande na die vrystelling van haar eerste Afrikaanse enkelsnit, Hart Op Jou
Mou, is SUNEL terug met ’n debuut-album wat beloof om aanhangers en nuwe luisteraars se
voete onder hulle uit te slaan.
SYMPTOME is ’n mengelmoes van elf pragtige snitte, in verskeie musiekgenres, wat daarop
gemik is om aanklank te vind by ’n groter gehoor. Tien van die liedjies is kraakvars
oorspronklike snitte uit haar eie pen, waarvan party met die hulp van Hugo Ludik, Vaughan
Gardiner en Darryl De Lange getoonset en vervaardig is. Haar treffende weergawe van Sonja
Herholdt se Ek Verlang Na Jou vul die laaste plek op dié hoendervleismooi vrystelling.
“SYMPTOME is ’n woord wat ek geskep het. Ek wou ’n titel vir die album hê waarmee beide
Afrikaanse en Engelse luisteraars kan vereenselwig. Toe besluit ek om simptome en
symptoms te meng en my eie weergawe te maak daarvan,” vertel SUNEL. “Ek wou ’n tema
skep wat regdeur die album vloei en alles saambind. ‘SYMPTOME’ van liefde, seerkry, geluk,
verliefwees, emosies en die lewe self en so ’n dieper betekenis na vore bring.”
Alhoewel die opnameproses nie lank geneem het nie, beplan en skryf die kunstenaar al vir
jare aan die inhoud van hierdie spesiale projek en meen sy dat gebeurtenisse uit haar eie en
ander mense se lewe die hoofinspirasie agter elke liriek was. “Eerlikheid is wat hierdie album
anders maak. Elke liewe liriek wat ek geskryf het kom uit my hart uit. Ek vertel my storie self,
iemand anders doen dit nie vir my nie en ek dink dit is werklik wat ’n kunstenaar maak,” sê
sy. “Ons almal gaan deur dieselfde dinge in die lewe en ek wil hê my musiek moet die
boodskap stuur dat ons nooit werklik alleen is nie. Ons almal is net mens en voel en
ondervind dieselfde dinge.”
Volgens die sangeres is dit moeilik om ’n gunsteling-liedjie uit te sonder, omdat elkeen vir
haar baie spesiaal is. “As ek wel moet kies sal dit tussen ‘Myself In Jou Gevind’ en ‘Airplanes’
wees. ‘Myself In Jou Gevind’ is so ’n sterk liedjie en kom uit so ’n gelukkige plek uit. Dit is
regtig ’n goedvoelliedjie en dit was die laaste een wat ek geskryf het vir die album.
‘Airplanes’ vertel ’n storie van die lewe en opofferinge wat ’n kunstenaar soms moet maak
om hulle drome te volg. Dis ’n diep, mooi liedjie.”
Hart Op Jou Mou, haar vorige enkelsnit en tweede vrystelling vanaf die komende album, is
baie goed ontvang. Dit is ’n liedjie waarby elke romantiese siel sal aanklank vind en gaan
daaroor om iemand so lief te hê dat daardie persoon in alle aspekte jou hart op hulle mou
dra.
“Die liedjie beteken geweldig baie vir my. Dit is sekerlik een van die diepstes wat ek
nog ooit geskryf het en ek is baie trots daarop. Ek glo dat dit iets is waarby baie
luisteraars sal aanklank vind. Om na musiek te luister, wat jou hartsnare sal raak en
’n mooi storie vertel, is geweldig belangrik. Daardie een liedjie wat jou hoendervleis
gee, omdat jy kan vereenselwig met wat dit werklik beteken”, verklap sy oor hierdie
diep emosionele Afrikaanse snit.
Volgens die musikant, het sy met opset die produksie van die enkelsnit eenvoudig
gehou, sodat daar niks is wat die rou lirieke en boodskap van die lied sou oorskadu
nie. Die eindresultaat praat direk met die hart en het reeds musiekliefhebbers en
radiostasies gaande. Die musiekvideo is ook tans op kykNET te sien.
Haar enkelsnit, Hart se Wens, wat ook van die nuwe album af kom beklee tans die
nommer een-posisie op SFM se Top 30-treffersparade.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=5p8JAJI0kPg
Die kunstenaar het bekendheid verwerf vir haar treffende debuut-enkelsnit, Fikcle
Heart, wat vir nege weke nommer een was op SFM se Top 30 en vir dertien weke bo-
aan die Nederlandse radiostasie, HOSA Radio, se trefferleer gekuier het. ’n
Musiekvideo van dié liedjie is deur die SAMA- en Ghoema-bekroonde vervaardiger,
Ryan Kruger van A Ryan Kruger Thing, vervaardig en is reeds deur meer as
negeduisend mense op YouTube gekyk. “Dit was ’n groot voorreg om saam met Ryan
te kon werk. Hy is een van die beste vervaardigers in die bedryf en dit was regtig vir
my ongelooflik om my video saam met hom op te neem,” vertel sy trots.
Vanjaar vier hierdie vyf-en-twintigjarige Jazz-prinses van Mosselbaai, met haar
tydlose stem, haar vierde jaar in die musiekbedryf. Sy het in ’n huis vol musiek
grootgeword en het gedurende haar skooljare koor gesing, aan konserte
deelgeneem en klavierles gehad. In die kort tydperk waarin sy al professioneel
musiek maak, het sy reeds die verhoog met talle groot name gedeel, waaronder
Chris Chameleon, Elvis Blue, Laurika Rauch, Corlea Botha, Coenie De Villiers, Steve
Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, om net ’n paar te noem. Verder is dié
blondekop ook ’n gereelde gesig by groot musiekfeeste, soos die Dias Fees (2016,
2017, 2018, 2019), Naartjie Fees, KKNK (2016, 2017, 2018, 2019), Bravo Fees en die
Bushlapa Musiekfees. Sy het ook al twee vertonings saam met Pieter Koen en Willem
Botha se kykNET Skole Toer gedoen.
Hierdie talentvolle musikant, wat deur alledaagse gebeure geïnspireer word om
hartslirieke te skryf en hoendervleismooi musiek te skep, is ’n groot
troeteldiereliefhebber wat daarvan droom om eendag ’n veilige hawe te stig vir
mishandelde en weesdiere. As sy nie bevoorreg genoeg was om daar musiekdroom
te kon volg nie, verklap die sangeres dat sy graag ’n professionele grimeerkunstenaar
of sielkundige wou wees, omdat sy daarvan hou om na mense te luister en raad uit
te deel. Sy het onlangs wel een van hierdie drome bewaarheid toe sy ’n
grimeerkursus voltooi het deur The Institute Of Makeup Artistry en is baie trots op
dié kwalifikasie.
Omdat sy ’n voorliefde het vir Jazz- en Swingmusiek, vind sy aanklank by kunstenaars soos
Dean Martin, Ella Fitzgerald, Frank Sinatra en Katie Melua en word hulle uitgesonder as van
haar grootste musiekinvloede. SUNEL droom ook daarvan om eendag saam met groot name
soos Taylor Swift, Michael Buble, Celine Dion en Ryan Tedder te werk. “Ryan Tedder is die
hoofsanger van One Republic en het al treffers vir baie groot name in die bedryf geskryf. Hy
is ook ’n meester as dit kom by musiekvervaardiging, so dit sal lekker wees om saam met
iemand van sy kaliber musiek te maak,” meen sy.
Oor die afgelope paar jaar, het sy besef dat dit nie maklik is om in die musiekbedryf te werk
nie, maar dat jy in jouself moet glo en nie oorsensitief moet wees vir kritiek nie. Sy sien baie
uit daarna om haar musiek met die res van die land te deel. “SYMPTOME pas in geen boksie
nie. Dis uniek, vars en ’n oorkruising van genres… dit is eerlik en ’n deel van my,” sluit sy af.
SUNEL se eerste album is ’n besonderse kombinasie van treffende lirieke en mooi
musiek, wat haar strelende fluweelstem komplementeer en haar vaardighede as
liedjieskrywer perfek ten toonstel. Dit is ’n knap stukkie werk wat beslis binnekort op
elke musiekliefhebber se speellys gaan wees.
SYMPTOME is nou beskikbaar
op: https://music.apple.com/za/album/symptome/1465430515
LYS VAN SNITTE
Myself In Jou In Gevind
- Die Waarheid Maak Seer
- Hart Se Wens
- Soos ’n Dwelm
- Games
- Als Oor Jou
- Fickle Heart
- Airplanes
- Never Trust A Man
- Hart Op Jou Mou
- Ek Verlang Na Jou
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/sunelmusic/
Instagram: @_miss_sunel
Twitter: @Miss_Sunel
BESPREKINGS
E-pos: sunelvanderlinde@yahoo.com
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies