Sharine Barnard se betekenisvolle musiek het oor die afgelope paar maande heelwat aandag getrek in musiekkringe. Daarom wou sy aanhangers graag bederf met nóg ’n enkelsnit voordat die jaar einde se kant toe staan.
AL LOOP EK is ’n herverwerking van die liedjie Al loop ek deur die nag wat sy in 2021 saam met die digter en skrywer, Mardi Barnard, geskryf het as deel van ’n gesamentlike opdrag wat hulle vir die Sing Aanlyn-program moes doen gedurende inperking.
“Die lied gaan oor hoe ’n mens soms deur liefde seergemaak en daardeur verhard word, maar tog weer iemand vind wat jou hart sag maak en hoop gee,” vertel sy. “Ek en Mardi het aanlyn ontmoet. Sy het die lirieke geskryf en ek het gekomponeer. Die musiek en woorde het net spontaan vir ons albei gevloei en ons kon die liedjie met gemak aanmekaar sit.”
Volgens die musikant is die snit vir haar baie spesiaal omdat dit haar eerste digitale vrystelling was en daarom was sy lus om dit ’n bietjie op te kikker vir diegene wat hou van iets met lekker ritme en saamsing-lirieke.
“Ek was lus vir ’n goedvoel Afrikaanse popliedjie wat jy kliphard kan saamsing wanneer jy dit oor die radio hoor, daarom het ek die wysie aangepas. Die oorspronklike weergawe se aanslag was meer dié van ’n hartseer liefdeslied,” sê sy. “Mense sal dit geniet, want dis lekker om na te luister en hulle sal aanklank vind by die boodskap.”
Die musiekvideo van Al Loop Ek is deur Lioness Records vervaardig en is op verskeie plekke in Suid-Afrika, sowel as Kanada verfilm.
Kyk die video hier:
AL LOOP EK is dié sanger, liedjieskrywer en diereliefhebber se sewende enkelsnitvrystelling en volg in die suksesvolle voetspore van treffers soos Breathe, Pray en Killer wat baie goed ontvang is.
Sharine het Jan Kempdorp grootgeword. Alhoewel sy altyd mal was oor musiek, was dit nie die hooffokus van haar lewe nie – sy het die afgelope twintig jaar kinders grootgemaak, ’n veilige hawe geskep vir leeus en ander groot katte en verskeie suksesvolle besighede gebou wat sy steeds bedryf – maar gedurende grendeltyd het sy besluit om haar musiekdroom ’n kans te gee en die res is geskiedenis.
Vir haar was die reis sover baie opwindend en sy is trots op elke liedjie wat oor die radio gespeel het of op die trefferlyste van verskeie stasies was. Sy is ook dankbaar vir die ondersteuning van Starburst Promotions en die radio-omroepers wat haar musiek met soveel opregte belangstelling aan luisteraars bekend gestel het.
“Rome is nie in ’n dag gebou nie, maar dis lekker om ’n pad te stap met mense wat soveel moeite te doen om vir ons, as musikante, geleenthede te skep. Selfs al werk dinge nie altyd uit soos beplan of so vinnig as wat jy graag wil hê dit moet gebeur nie, waardeer ek die klein dingetjies wat daaruit spruit, en is dit opsigself vir my ’n hoogtepunt.”
Buiten vir haar liefde vir musiek, is Sharine – wat die mede-eienaar is van Bagamoya Wildlife Estate – ook passievol oor diere. Sport en gesondheid is ook vir haar belangrik en tans en is sy besig om saam met haar kinders voor te berei vir die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe. Sy is ook eienaar van ’n Osoonterapie-kliniek – Ozone Clinic – wat mense help om gesonder te wees en doelwitte ten opsigte van sportprestasie te bereik.
AL LOOP EK is maar net die begin van opwindende dinge wat sy vir die volgende jaar beplan, wat onder andere haar debuut-album en ander verrassings insluit.
Die liedjie is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier:
https://open.spotify.com/album/3Lk1JCQBiaB1bhmOKYdtKA?si=r_phdiFETr2U2gC6J9oLyQ
https://music.apple.com/za/album/al-loop-ek/1642916002?i=1642916005
https://deezer.page.link/5K1jo1Y9AekVkWjZA
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/sharine.barnard/
Instagram: @sharinebarnard
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC6Zcv-9dred5cHreBul9ZZg
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES