Die alternatiewe rockgroep van Bloemfontein, RISE IN RED, het pas aangesluit by een van die land se mees gesogte publisiteitsagentskappe, Starburst Promosies. Hulle sluit aan by ’n lang lys bekende en suksesvolle kunstenaars, waaronder ADAM, Jo Black, Early B, Joshua na die Reën, en vele meer, wat ook deel is van hierdie suksesvolle musiekfamilie.
“Ons het besluit dat ons ’n meer aggressiewe benadering nodig het wanneer dit by publisteit en bemarking kom. Die regte verhoudings in die musiekbedryf is noodsaaklik en ander kunstenaars het ons aangeraai om Starburst Promotions te nader om ons met hierdie aspek van ons handelsmerk te help,” verduidelik hoofkitaarspeler, Jayson Reynolds oor hulle besluit om saam met so ’n ervare maatskappy te werk. “Ons weet dat Starburst Promotions ‘n goeie reputasie met radiostasies en die media handhaaf en voel dat dit is wat nodig is vir RISE IN RED se musiek om die regte ore te bereik. Ons is baie opgewonde oor die vennootskap en voel positief oor die groep se toekoms.”
RISE IN RED is in 2010 gestig deur hoofkitaarspeler, Jayson Reynolds, voorsanger Dustin McCrindle, dromspeler Jaco Novella en baskitaarspeler Kyle Bath. Pierre du Toit het in 2018, as sessiemusikant, oorgeneem as baskitaarspeler.
“Die naam RISE IN RED is gekies omdat ons almal Christene is en daarop fokus om ’n boodskap van hoop met ons musiek te bring. Dit pleit inderwaarheid by luisteraars om op te staan vir dit waarin hulle glo,” sê Reynolds.
Die groep, wat bekendheid verwerf het vir hulle inspirerende lirieke en strelende klank, is hoofsaaklik begin as ’n projek wat gemik was op liedjieskryf en –vervaardiging, maar teen 2015 het hulle dit reggekry om hulle eie unieke styl te skep en begin fokus op lewendige optredes.
Sedertdien het hulle van krag-tot-krag gegaan en die verhoog gedeel met verskeie groot name, waaronder Prime Circle tydens hulle Let The Night In-toer en weer by Walter Sisulu Botaniese Tuine, asook AKING, Dan Patlansky, Francois van Coke en vele meer.
In 2017 het die groep hulle eerste drie enkelsnitte – Rhythm & Blues, Alright en Voices – opgeneem en vrygestel en was aan die begin van 2019 terug in die ateljee om liedjies op te neem vir hulle debuut-album, wat eersdaags vrygestel sal word.
“Ons glo dat ons musiek en album ’n moderne benadering tot die rock-genre bied en dat dit iets is wat Suid-Afrika nodig het.” voeg Jayson by.
Starburst Promotions, wat al vir jare lank van die land se grootste en mees bekroonde kunstenaars verteenwoordig, is baie opgewonde oor die vooruitsig om saam met RISE IN RED te werk en het baie opwindende planne vir dié groep in die pyplyn.
“Ons is baie opgewonde om RISE IN RED te verwelkom. Ons missie en visie is nog altyd om kwaliteit-musiek aan die publiek bekend te stel en dit maak my baie opgewonde wanneer ons die geleentheid en voorreg kry om met sulke talentvolle musikante te werk. Ek glo daar wag groot dinge op hierdie groep,” sê Alishia van Deventer, besturende direkteur van Starburst Promosies. “Ons sien uit daarna om binnekort hulle nuwe enkelsnit en debuut-album met luisteraars te deel.”
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/riseinred/
Instagram: @riseinred
Webblad: www.riseinred.com
SoundCloud: https://soundcloud.com/riseinred
YouTube: http://youtube.riseinred.com
FOTO KREDIET:
Gerduan Kemp from GK Kreativ Productions
Facebook: https://www.facebook.com/GKKreativProductions/
Instagram: https://www.instagram.com/gk_kreativ_productions/