
Bekende kunstenaars, Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds het onlangs MUSIEK SOOS GROND bekendgestel. Hierdie konsep bestaan uit onafhanklike kunstenaars wat saamtrek om die verhoog te deel en nie net hulle eie verwerkings op te voer nie, maar ook om saam musiek te maak en mekaar te begelei.
Hulle het die eerste twee datums bekendgemaak en bevestig dat Villa Avianto (Bloemfontein 27 April 2019) en The Big Red Barn (Pretoria 4 Mei 2019) die tuistes sal wees van die eerste twee baie unieke en betowerende musiekkonserte.
Om dit nog meer besonders te maak, het dié groep musikante ook saam ’n splinternuwe enkelsnit opgneem en ‘n musiekvideo daarvan laat vervaardig. LUGBALLON is ’n pragtige kontemporêre hartsliedjie, met die boodskap dat jou uitkyk op die lewe dikwels bepaal hoe jy situasies hanteer. “Dit gaan oor die reis wat ons as musikante met een hart meemaak en hoe ons en ons gehore mekaar kan aanspoor om vanuit ‘n hoër perspektief na die wêreld te kan kyk en sien hoe mooi dit regtig is, hoeveel hoop daar is en dat ons regtig genoeg is om mekaar hoop te gee en te inspireer omdat ons van onsself vir mekaar gee”, sê Anique van Kaleidoskoop.

Len Muller het die lied se openings-wysie op die kitaar gesit en tokkel by ‘n vergadering met Starburst Promotions terwyl Anique Jordaan (Kaleidoskoop) met die idee van die lugballon as metafoor vorendag gekom het. Joshua na die Reën het alles bymekaar getrek en meeste van die lirieke geskryf asook die vervaardiging van die bykomende instrumente behartig terwyl Leon Gropp en Jouba Jordaan (Kaleidoskoop) hand bygesit het met idees, raad en advies.

Dit is uitdagend vir 7 kunstenaars om saam te werk en almal op dieselfde plek op dieselfde tyd te wees as gevolg van beroepe en verpligtinge. Om die stemme te kies wat bymekaar pas waar bv. net twee saamsing was inderdaad ‘n groot taak, maar elke kunstenaar se unieke klank kan duidelik herken word. Om hierdie style te versoen in koor-gedeeltes is wel ‘n ander saak want almal se konsonante val op verskillende tye, maar die talentvolle Gideon Botes wat die lied opgeneem en gemeng het, het dit meesterlik gedoen en die eindresultaat is asemrowend! Die lied se stemme, kitaar, viool en tjello is in een dag opgeneem!
Lugballon is beskikbaar op alle digitale platforms en kan hier aangekoop word:
https://itunes.apple.com/za/album/lugballon-single/1458229169
https://distrokid.com/hyperfollow/musieksoosgrond/lugballon
Die musiekvideo is deur Daville se Jean de Villiers (Joshua na die Reën se broer) op hulle ouers se plaas net buite Alberton geskiet. Paper Plane Media se Etienne Swanepoel het ook kom uithelp met die skiet van die video.
Die video weerspieël wat MUSIEK SOOS GROND is – ‘n klomp vriende wat dit geniet om saam musiek met een boodskap te maak, maar tog uniek bly. Al die tonele speel in verskillende dele van die natuur af wat simboliseer dat baie dinge met grond en dan ook musiek kan gebeur – ‘n woud, ‘n grasveld, ‘n grondpad … Daar was ‘n paar vroeë oggende wat almal moes reg wees voor die son opkom om die goue oomblik op die plaas vas te vang, en dit het natuurlik gepaard gegaan met vroeg-oggend koffies en heerlike kuiers om pizza-bokse tot laat in die aand.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=-S2mTA8oA9E

MUSIEK SOOS GROND is die heel eerste van sy soort in die land en gaan sorg vir ’n musiekervaring wat jy beslis nie wil misloop nie. Dié twee konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle hoendervleismooi lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel.
Buiten vir hoë gehalte musiek, sal gaste ook bederf word met gourmet-geregte, lekker wyn en goeie koffie om die geleentheid mee af te rond.
KONSERTDATUMS
27 April 2019 – Villa Avianto, Bloemfontein
4 Mei 2019 – The Big Red Barn, Pretoria
Deure open om 17h00 en sluit weer om 22h00. Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier.
Kaartjies is beskikbaar by www.musieksoosgrond.co.za en wissel tussen R200 en R250 per persoon.
RAAK BETROKKE!
Indien jy of jou besigheid ’n stalletjie by een van die vertonings wil hê of jy graag op ’n ander manier wil bydra of betrokke raak, stuur ’n e-pos na musieksoosgrond@gmail.com

Ek word stil.
Ek word stil as my siel onder jou voete soos ’n oop, omgeploegde land lê.
Jy met jou musiek soos reën oor my… met ’n Kaleidoskoop van kleur laat dit iets wat
versteek is binne my uit sy nate bars en dan word dit skielik groen,
’n grasvlakte, ’n boom, ’n woud.
En ek word stil,
stil tevrede as my siel te midde van jou melodieë ontkiem.
– Musiek Soos Grond –
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: @MusiekSoosGrond
Instagram: @musieksoosgrond
Twitter: @musieksoosgrond