Alhoewel plaaslike gehore alreeds begin uitsien het na vanjaar se skreeusnaakse romantiese komedie deur Boondogle Films, KAALGAT KAREL, wat op 24 September 2020 (Erfenisdag) uigereik sou word, moes die vervaardigers Paul Egan en Meg Rickards (wat ook die regisseur is), die moeilike besluit neem as gevolg van die huidige omstandighede van Covid-19 om die vrystelling van hierdie film vir hierdie jaar uit te skuif na Februarie 2021. Egan en Rickards was ook verantwoordelik vir projekte soos die bekroonde speelfilm, Tess, en die dokumentêr, 1994: The Bloody Miracle.
Die wonderlike nuus is egter dat KAALGAT KAREL nou ‘n Valentyns-uitreiking sal wees vir 2021. Die romantiese komedie sal op 12 Februarie 2021 in fliekteaters landswyd begin draai en beloof om kykers te bederf met hope romanse, humor, sport, en aksiebelaaide pret! “Valentynsnaweek is een van die mees gesogte datums op die fliekteater-kalender en pas ons fliek soos ‘n handskoen!”, sê Meg Rickards opgewonde!
Meg en Paul vertel verder dat die film pragtig bymekaar kom en dat hulle nou in die laaste deel van na-produksie is. “Die film sal middel Augustus voltooi wees en word reeds tans vir talle komedie-feeste wêreldwyd ingeskryf waarvan ons reeds ongelooflike positiewe terugvoer ontvang het”, sê Paul.
KAALGAT KAREL, vertel die verhaal van Karel Venter (Francois Jacobs – Donkerland, Vir die Voëls, Pad Na Jou Hart), ’n kaalnaeler wat die ongewensde aandag wat sy aksies by sportgeleenthede kry geniet! Hy raak halsoorkop verlief op die paramedikus, Rita (Christia Visser – Tess, Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood in my Huis), wat hom red nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop, maar daar is een probleem; sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie. Die skreeusnaakse kansontmoeting tussen dié twee karakters skep die perfekte agtergrond vir die romantiese komedie van 2021 wat vroeër vanjaar in Oos-Londen verfilm is.
Ander geliefde akteurs wat ook in hierdie fliek te sien sal wees is Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel, Sara se Geheim) as Karel se vriend en kamermaat Flip; Siv Ngesi (Knuckle City, 24, Black Sails) as Vuyo, Karel se kaalnael-teenstander; grapjas en sanger, Tracey-Lee Oliver (The Voice, Project Fame) as Rita se kollega en Eden Classens (Suidooster, Dancing with the Stars) as die glansryke plastiese chirurg, Jean-Pierre du Toit.
Rosabelle Clasen, dogter van die vermaakpaar, Neels en Eloise Clasen, maak ook haar debuut op die grootskerm in die rol van Bella, Rita se dogter.
KAALGAT KAREL is ’n heerlike romantiese komedie wat sal aanklank vind by ‘n wye Suid-Afrikaanse gehoor en dit gaan verseker dat 2021 se maand van liefde op die regte noot afgeskop word! Dit word vervaardig in samewerking met kykNET, die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie (OKOK), die -Kaapse provinsiale kuns-en-kultuurraad (ECPACC), Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en handelsmerkvennote Galito’s, Red Alert en die Hathaway-gastehuisgroep. Die fliek word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal landswyd in bioskope begin draai op 12 Februarie 2021.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/KaalgatKarel
Instagram: @kaalgatkarel
Twitter: @kaalgatkarel
Hutsmerke: #KaalgatKarelFIlm #HierGatOns #12Februarie2021
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES