
Daar is al oor die jare baie flieks gemaak van mans met gewere, wat wraak wil neem of moet vlug vir hulle lewens. Maar voor John Wick, was hierdie ouens maar redelik gewoon.
Die derde John Wick-rolprent, deur regisseur Chad Stahelski, is aksiebelaai en intens. Selfs die titel, JOHN WICK: CHAPTER 3 – PARABELLUM, getuig van die slagting wat gaan volg. Die sub-titel is afkomstig van die Latynse gesegde – Si vis pacem, para bellum, wat beteken: “As jy vrede wil hê, maak gereed vir oorlog”… en blykbaar is dit presies wat kykers gaan kry!
In die derde aflewering van hierdie adrenalienbelaaide rolprentreeks, is Keanu Reeves terug as die berugte super-sluipmoordenaar John Wick. Aan die einde van John Wick: Chapter 2, was hy nie in die beste toestand nie. “Die derde hoofstuk volg letterlik op die tweede een en begin met John Wick wat vlug vir sy lewe,” sê Reeves, wat deur intensiewe vegopleiding gegaan het om sy tonele so realisties as moontlik te laat lyk. “Van daar af, gaan dinge woes!”

Hy is beslis nie verkeerd nie. In JOHN WICK: CHAPTER 3 – PARABELLUM, vlug John Wick vir een belangrike rede: hy het die kardinale reël oortree deur iemand te vermoor op die Continental Hotel se perseël. Hiervoor is daar ’n sluipmoordkontrak van $14-miljoen op sy lewe uitgereik. Sy slagoffer was ’n lid van die The High Table, wat verantwoordelik is vir die moordkontrak op sy lewe. Wick moes reeds dood gewees het, maar die Continental se bestuurder, Winston, het hom ’n uur grasie gegee voor sy “excommunicado”. Met sy lidmaatskap wat opgehef is, die feit dat hy verban is van alle dienste en voordele en afgesny is van die ander lede, moet Wick sy pad uit New York uit oopveg en moor – iets wat amper onmoontlik lyk met van die wêreld se wreedste sluipmoordenaars op sy spoor.

Daar is glad nie teruggehou met dié aksieprent nie en Stahelski meen dat kykers van die eerste twee flieks nog niks gesien het nie. “Hierdie rolprent lewer nog meer lyke en geweld op as die vorige een,” verklap hy.

“Ek hou daarvan om hierdie tipe prente te maak, omdat daar nie beperkings nie. Ons skep ons eie mitologie en het ’n vervaardigingsmaatskappy wat nie inmeng nie en ons mal idees ondersteun. Ek kan hier bly vir die res van my loopbaan. Maar ons werk in die vermaakbedryf, so ons sal dat die gehoor besluit,” voeg die voormalige waaghals by.
Volgens Stahelski sluit die fliek perde, honde, katte, ’n kraai, ’n swerm voëls, gewere en ninjas in. Basies dus net nog ’n dag op kantoor vir Wick.
Buiten vir die vreemde versameling diere – John Wick is nie verniet een van die grootskerm se bekendste hondeliefhebbers en –beskermers nie – is Reeves beslis ook nie alleen in die nuwe trilogie nie. Laurence Fishburne, Ian McShane, Lance Reddick en John Leguizamo is almal terug in hulle onderskeie rolle as The Bowery King, Continental Hotel-eienaar Winston, die Continental-portier Charon, en die skrootwerf-eienaar Aurelio.

Daar is ook nie ’n tekort aan nuwe sluipmoordenaars op Wick se spoor nie, met Mark Dacascos as Zero en Jason Mantzoukas in die rol van Tick Tock Man.
Anjelica Huston sluit ook by die rolprent aan as The Director, wat nou saam met The Adjudicator (Asia Kate Dillon) werk. Hulle is deel van die The High Table en is nie beïndruk dat Wick een van hulle eie vermoor het in Chapter 2 nie.

Die mees opwindende toevoeging tot die film, is beslis Halle Berry in die rol van Sofia, ’n mede-huurmodenaar en Wick se vriend, wat alles in die stryd werp om hom te help ontsnap uit New York uit.

John Wick is een van daardie besonderse aksiefilms wat krities geprys word omdat dit so lewensvatbaar is. In ’n aksierolprentgenre, waar superheldflieks en epiese wetenskapsfiksie-prente koning kraai, is hierdie reeks beslis baie suksesvol.
Reeves se komplekse vertolking van ’n beseerde man wat net in vrede saam met sy hond wil leef, gekombineer met aksietonele wat kykers op die punte van hulle stoele hou en ’n deurdagte storielyn, het van John Wick die moderne middel-begrotingaksiefliek-antwoord gemaak op die klagte dat daar nie meer ordentelike aksiehelde oor is nie.

Die oorspronklike wraakbelaaide fliek het van nêrens af gekom in 2014, met die subteks dat dit die ster se poging was om sy akteursloopbaan te hervat. Maar John Wick het almal se voete onder hulle uitgeslaan en meer as $88,8-miljoen by die wêreldwye loket verdien – op ’n begroting van minder as $30-miljoen. Gehore wou duidelik meer sien en Stahelski was maar net te bly om aan hierdie versoek te voldoen.
Die 2017-opvolgrolprent het kykers bekendgestel aan die geheimsinnige wêreld van professionele moordenaars en die bestaan van ’n magtige raad van huurmoordenaars en misdaadleiers wat bekendstaan as The High Table. Dit het selfs beter gevaar by die loket en $171,5-miljoen ingepalm op ’n $40-miljoen begroting.

Die reeks het ’n lojale ondersteuningsbasis opgebou oor die afgelope paar jaar en baie mense is opgewonde om vir Reeves terug te sien in een van sy mees kenmerkende rolle. As jy Reeves se talent, draaiboekskrywer Derek Kolstad se vermoë om spanning te skep, Stahelski se boeiende aksietonele en Dan Laustsen se puik kinematografie in ag neem, beloof JOHN WICK: CHAPTER 3 – PARABELLUM om selfs groter hoogtes te bereik as sy voorgangers.
JOHN WICK: CHAPTER 3 – PARABELLUM word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 17 Mei 2019.
Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=M7XM597XO94
SOSIALEMEDIA
Vir meer inligting oor JOHN WICK: CHAPTER 3 – PARABELLUM, insluitend die amptelike lokprent, hou ons https://www.facebook.com/nutsaboutmovies dop of volg ons op Twitter by @NutsAboutMovies en gebruik die hutsmerk #JohnWick3_SA om oor die fliek te gesels.
INTERNASIONALE SKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/johnwickmovie/
Twitter: @JohnWickMovie
Instagram: @johnwickmovie