JANA VILJOEN – VOICE OF SPEECHLESS

Ziya, oftewel Jana Viljoen is ’n Suid-Afrikaanse musikant, komponis, liedjieskrywer en die mede-stigterslid en ’n direkteur van die Brain Child Fund. Sy woon tans in Philadelphia in die VSA, saam met haar man – Hannes – en hulle vier kinders, Kyna (15), Gian (14), Leo (12) en Abigale (11).
 
Sy het in ’n baie musikale familie grootgeword en het van jongs af geweet dat sy graag ’n loopbaan in die musiekbedryf wil hê. Alhoewel sy reeds vandat sy vyf jaar oud is liedjies gekomponeer en vertonings in die sitkamer gehou het, het sy eers op die ouderdom van twintig die musiekbedryf amptelik betree.

Die kunstenaar het reeds twee albums, Saturated (2003) en Oertoekoms (2008), op haar kerfstok en omdat sy glad nie hoofstroommusiek maak nie, het sy nog altyd daaraan geglo om getrou te bly aan haarself en aan die seisoen van die lewe waarin sy haarself bevind.

’n Groep musikante by die destydse Lighthouse Music, ’n onafhanklike musiekmaatskappy, het haar talent ontdek en haar aangemoedig om uit haar gemaksone te tree. Sy en Nick Costaras, wat deel was van die groep, het ook onlangs saam met Chris Letcher gewerk aan ’n liedjie en musiekvideo vir Voice of the Speechless, ’n bewusmakingsveldtog deur hulle nie-winsgewende organisasie, se eerste enkelsnit – Lonely Together wat deur Ziya geskryf is en daarop fokus dat daar baie mense is wat alleen voel, al is hulle nie in afsondering nie. Hierdie projek kombineer haar passie vir musiek en liefde vir diegene met spesiale behoeftes.

Voice of the Speechless (VOS), is ’n veldtog deur die Brain Child Fund, ’n nie-winsgewende organisasie wat gesinne met spesiale behoeftes bystaan. Dit is in 2009 deur Jana en haar man gestig.

“VOS is ’n sosiale bewusmakingsinisiatief wat van opvoedkundige vermaak gebruik maak om bewusmaking te skep en die stigma rondom diegene met verstandelike gestremdhede uit te skakel, met behulp van musiek en video’s,” verduidelik Ziya. Die projek is regtig die eerste van sy soort – dit vang die geluide, omgewing, leefwyse en stories van kinders met spesiale behoeftes vas en gee dit weer met behulp van musiek en beeldmateriaal. Die doel is om vir kykers te wys hoe hierdie individue, uit verskillende lande en agtergronde, se lewens lyk.

LONELY TOGETHER is die eerste snit in ’n reeks liedjies wat sy graag in ’n visuele album wil omskep – ’n konsep waar daar ’n video saam met elke liedjie vrygestel word, in samewerking met gesinne en ander musikante van regoor die wêreld. Die projek, in geheel, sal dan as ’n kort dokumentêr dien om bewusmaking te skep oor die lewens van mense met spesiale behoeftes.

Ziya is in Welkom gebore en het in Pretoria grootgeword. Sy beskryf haarself as ’n ‘ekstrovert-introvert’, wat net so lief is vir mense, grappiesmaak, kuier en die natuur, as wat sy daarvoor is om alleen tyd in haar musiekateljee te spandeer. “Ek is nogal ’n diep denker wat soms sukkel om geselsies te maak. ’n Rooiwyn, eerder as ’n witwyn persoonlikheid en iemand wat intens voel en baie empatie het met ander mense en graag lewens wil verander,” deel sy.

Drie van haar vier kinders het spesiale behoeftes en sedert die eerste diagnose soek sy en haar man hulp en oplossings vir hulle situasie. Dit het nie net gelei tot die ontstaan van die Brain Child Fund nie, maar ook tot die besluit om na die VSA te verhuis. “In ons soeke na maniere om ons kinders te help, het ons pad met ’n organisasie in Philadelphia gekruis. Hulle tuisprogram het binne vier maande meer resultate behaal as wat ander konvensionele metodes in drie jaar kon regkry. Ons kinders het mylpale behaal wat ons nooit gedink het moontlik sal wees nie. Dit het ons laat besluit om te verhuis – nie net vir ons eie gesin nie, maar ook om ander gesinne te help. Ons woon al sedert sewe jaar aan-en-af in die VSA,” verduidelik die sanger.

Wanneer jy vir Ziya – wat self klassieke musiekopleiding gehad het – uitvra oor wie die grootste invloed op haar eie musiekstyl gehad het, verklap sy dat U2 se musiek en filantropiese uitkyk vir haar ’n groot inspirasie is. Sy het ook groot waardering vir kunstenaars soos Sting, Peter Gabriel, Imogen Heap en Björk en geniet Alternatiewe en Elektroniese musiek, Jazz en Rock wanneer sy radio luister.

As sy enige ander beroep moes kies, sou sy graag ’n spioen of geheime agent wou wees wat kwesbare mense red. “Ek het nog altyd ’n hart gehad vir die underdog, die kwesbares en die gebrokenes… dalk omdat ek my eie gebrokenheid in ander kan raaksien,” sê sy.

Miskien spruit haar behoefte om die weerloses te beskerm daaruit dat sy nie kon keer dat haar dogter op dertien maande ’n beroerte kry nie.

Ziya glo dat jy altyd eers jouself in ander se skoene moet plaas voordat jy oordeel. Sy het nog baie planne en drome vir die toekoms, maar vir nou fokus sy eers op haar nuutste hartsprojek en maak sy ’n verskil in die lewens van spesiale kinders en hulle gesinne… een liedjie op ’n slag.

LONELY TOGETHER, plaas die lewens van kinders met spesiale behoeftes in die kollig, wat was jou inspirasie om hierdie kinders te betrek en spesiaal te laat voel? 
 
As ń ma met spesiale behoefte kinders kom ek soms in aanraking met die stigmas wat mense het rondom spesiale behoeftes, die manier waarop mense soms staar of net die awkwardness en ek verstaan dit ook want voordat ek my kinders gehad het, het ook nie veel geweet van spesiale behoeftes of hoe om op te tree nie.

My inspirasie is om stigmas af te breek en om die publiek te laat besef dat die diep, menslike behoefte om te geliefd te wees en om te connect net so deel is van die spesiale behoefte gemeenskap as die “normale” gemeenskap. Dit het ek vasgevang in die lirieke wat sê: “The longing to connect, to touch, to love another human being. We’re not so different after all it seems”. Die grendelstydperk het ons almal geplaas in die skoene van baie spesiale behoeftige individue wat nie kan uitdruk hoe hulle voel nie.

Vertel on meer oor “Voice of Speechless” en hoekom dit so na aan jou hart is. 

Een van my seuns is non-verbaal en ek kan ń baie spesifiek oomblik 10 jaar gelede onthou toe hy iets vir my wou sê maar nie kon nie. Ek het in daai oomblik die idee gekry om sy geluide op te neem en as’t ware n klank tapesterie te weef met sy unieke klanke en dan lirieke te skryf oor hom om vir hom ń stem te gee.

ń Paar jaar later het ons netwerk van spesiale behoeftes gesinne wat deel is van Brain Child Fund Tribe uitgebrei en in 2018 het ek onthou van daai oomblik van inspirasie en het besef dat dit baie groter as net Gian is en dat daar vele meer is wat ń stem het wat gehoor moet word.

Wie of wat was jou inspirasie vir Lonely Together? 

Gian my seun met Down Syndrome en Outisme

Met die wereld in “lockdown” dink jy mense sal inspirasie vind in jou nuwe lied? 

Ja, ons hoor gereeld van mense wat die video gekyk het wat sê dat dit vir hulle ń eye-opener was en dat hull nou anders kyk na die spesiale behoefte gemeenskap.

Watse boodskap hoop jy sal mense in jou musiek en nuwe lied Lonely Together vind? 

As jy jouself vir ń oomblik sit in die skoene van ń ander, lyk goed skielik heeltemal anders. Met die verhoging van spesiale behoefte diagnose, is dit baie belangrik dat ons ons perspektief verander. Ghandi het gesê: “A nation’s greatness is measured by how it treats its weakest members.”
 
Met net ’n paar maande oor vir 2020 watse ander projekte en musiek kan ons van jou verwag?

Hierdie sal my “creative baby” wees vir n ruk. Ek is steeds besig met Voice of the Speechless en die tweede lied begin al broei, so ons sal begin werk aan die volgende een om dit waarskynlik in 2021 vry te stel. Die idee is om ń album te maak oor n tyd periode en dan die als saam te kombineer in ń kort dokumentêr.

Het jy enige woorde van inspirasie vir ons jeug? 

Voice of the Speechless was vir my n droom en dis al wat dit was todat ek dit kon verwesenlik met die hulp van n klomp mense. As jy ń droom in jou hart het moet jy jouself vra:  Hoe verskiklik graag wil ek dit nou regtig hê? Want inspirasie en die droom is belangrike komponenent, maar net n klein gedeelte daarvan om dit te laat verwesenlik. Dis net die vlam wat jou inspireer, die res is baie non-glamorous. 

Almal wil graag iets doen en droom oor dit of dat, maar die realiteit is dat baie min mense wel daai droom verwesenlik.  Soos n olimpiese atleet is die actual resies en moment of glory letterlik n paar minute lank. Die res van die tyd is dit die visie, disipline, harde werk, span werk en toewyding wanneer niemand kyk of hande klap nie.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/ziyamusic100/
Instagram: @ziya_music_official
VOS:
Facebook: https://www.facebook.com/vosmovement/
Instagram: @vos_movement
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UClFBPJa3tIhl1p6-TfIPJFw?view_as=subscriber

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *