Die liedjie handel oor my verhouding met die liefde van my lewe, Maryke. Oor hoe ek haar wese vlot wil praat, maar dikwels struikel,” verklap TWEE se Herman Kleinhans oor die betekenis agter sy hartroerende nuwe solo-enkelsnit, wat verseker van vandag af radiostasies gaan oorneem.
VLIEGTUIG, wat dié Ghoema-bekroonde liedjieskrywer en musikant self geskryf het, is ’n hoendervleismooi kontemporêre snit, wat hulle liefdesverhaal perfek vasvang… soos net Herman weet hoe.
Die paartjie, wat op Tinder ontmoet het, het eintlik naby mekaar grootgeword in Port Elizabeth en bestuur tans twee besighede, TWEE Vellies en TWEE Plakkers, saam.
“Ek het eendag Maryke se kombuistafel vol sout gelos nadat ek springmielies gemaak het. Daarna het ek haar bed deurmekaar gemaak nadat sy dit reeds opgemaak het. Sy het dit geensins waardeer nie. Ek het die liedjie geskryf om op te maak. Die titel, ‘Vliegtuig’, kom van ons droom af om eendag saam ’n vliegtuig te besit,” verduidelik hy. “Die liedjie dra vir my baie sentiment en ek weet sommer dat baie mense daarby gaan aanklank vind bloot as gevolg van die feit dat al hoe meer mense van toeps soos Tinder gebruik maak om liefde te vind. Ons storie is ’n Tinder-suksesverhaal en ek het dit in ’n liedjie vasgevang.”
VLIEGTUIG is die eerste vrystelling vanaf sy splinternuwe solo-album, Ruite Oop, wat op 30 November 2020 uitgereik word. Dit spog met 12 snitte, wat grotendeels uit sy eie pen kom, met die uitsondering van drie liedjies waarvan hy twee saam met Bok van Blerk en een – Ons Kan – saam met sy meisie, Maryke, geskryf het. Die album word saam met Herman se eie toepassing, ShareTime, uitgereik. Die doel hiervan is om ’n platform te skep wat dit vir mense maklik maak om mekaar te help met hulle tyd en hy glo dat dit regtig ’n verskil kan maak.
Herman is in Sunland in die Oos-Kaap gebore en het die kuns bemeester om gehore in die palm van sy hand te hou met sy veelsydigheid en passievolle verhoogoptredes. Sy liefde vir sing is reeds op ’n jong ouderdom gebore en is geïnspireer deur sy pa, wat altyd kitaar gespeel en gesing het wanneer vriende kom braai het.
Oor die jare het hy die voorreg gehad om saam met verskeie groot name in die bedryf te werk en het hy talle loopbaanhoogtepunte bereik, waaronder ’n Ghoema-toekenning vir die Publiek se Gunsteling-Duo of Groep as deel van die groep, TWEE, asook ’n SAFTA-benoeming vir die musiek wat hy en Dawie de Jager vir die kykNET-reeks, Alles Malan, geskep het. Hy was ook die wenner van Afri-Visie se liedjieskryfkompetisie in 2015, wat sy loopbaan behoorlik laat vlam vat het.
Wanneer hy nie besig is om liedjies te skryf of op te tree nie, hou hy sy lyf entrepreneur en deel hy ook dat hy graag ’n sielkundige sou wou wees as musiek nie vir hom uitgewerk het nie.
Die musiekbedryf het om geleer om geduldig te wees en om sy musiekloopbaan soos ’n besigheid te benader. Hy het nog baie planne vir die toekoms, wat suksesvolle besighede, ’n troue en oorsese toere insluit, maar vir nou fokus hy eers op die bemarking van sy nuwe toep en album.
VLIEGTUIG spog met ’n opgewekte wysie en betekenisvolle liefdeslirieke, wat met gehore van alle ouderdomme praat. Met elke nuwe liedjie wat Hermanvrystel, kruip hy nie net dieper in die harte van musiekliefhebbers nie, maar verstewig hy ook sy plek in die plaaslike musiekbedryf.
Laai die enkelsnit hier af: https://music.apple.com/za/album/vliegtuig/1541177750?i=1541177751
Die volle album sal op 30 November op alle digitale platforms beskikbaar wees, maar jy kan die album nou reeds hier bestel:
SOSIALE MEDIA SKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/hermankmusiek
Twitter: @HermanMusiek
Instagram: @hermankleinhans
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCipCFcgkd31TNH_2fxlJ_dw
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Foto Krediet: Voetpad Fotografie