Haylea Heyns vier verandering met nuwe enkelsnit, Cold Water

Verandering is nooit maklik nie, maar dis onafwendbaar. Al wat ons kan doen, is om die beste daarvan te maak en dit is presies waaroor Haylea Heyns se nuutste enkelsnit, COLD WATER, gaan.

Die popliedjie, wat oorspronklik as ’n Ed Sheeran-styl ballade beplan is, is deur Markus Els en Tom Watkeys vervaardig en spog met ’n lekkerluister-ritme en betekenisvolle lirieke wat jou uitnooi om saam te sing.

COLD WATER moedig jou aan om verandering te aanvaar. Ek is iemand wat nie hou van kanse waag nie, maar daag myself deesdae gereeld uit om buite my gemaksone te tree,” verduidelik sy oor dié snit wat sy saam met Tom Watkeys geskryf het. “Dit is vreesaanjaend om buite jou veilige spasie te tree, maar ek het nog elke keer gegroei as ek bereid was om ’n kans te waag. Die doel van hierdie liedjie is om luisteraars te inspireer om dieselfde te doen. Dis nooit lekker om in ‘koue water’ te spring nie, maar dit is verfrissend.”

Op ’n meer persoonlike vlak, gaan die liedjie ook daaroor om jouself toe te laat om vir die eerste keer lief te hê en nie vas te skop teen ’n verhouding omdat jy bang is nie.

Die musiekvideo van hierdie kragtige snit sal op 22 April vrygestel word.

COLD WATER volg in die voetspore van haar sewende enkelsnit en musiekvideo, Sorry, wat baie goed ontvang is en speeltyd op verskeie groot radiostasies geniet het.

Haylea het in Empangeni grootgeword en was nog altyd passievol oor musiek. Na skool, het sy BA Musiek en Drama studeer en haar graad met lof verwerf.

Sy het in 2018 haar debuut in die musiekwêreld gemaak en sedertdien verskeie hoogtepunte beleef. Nie net is sy in 2021 aangewys as Durban se Kunstenaar van die Jaar tydens die City Awards nie, maar sy het ook die voorreg gehad om die Suid-Afrikaanse Volkslied en Britse Volkslied te sing voor groot internasionale rugbywedstryde en om saam met verskeie SAMA-bekroonde kunstenaars, soos Connell Cruise en Mark Stent, te werk.

Sy is ook ’n kinderboekskrywer, kopieskrywer en inhoudskepper en haar musiek kan beskryf word as ‘n vorm van

poësie waardeur sy haar lewenservaring en emosies deel.  COLD WATER is die perfekte voorbeeld hiervan.

“Dit is baie bevredigend (en terselfdertyd vreesaanjaend) om jou emosies (en kreatiewe werk) met die res van die wêreld te deel. Jy wil altyd hê dat mense daarvan moet hou, maar dit moenie jou hooffokus wees nie. Solank ek trots is op my werk, is ek gelukkig,” sluit sy af.

COLD WATER is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://hayleaheyns.lnk.to/ColdWater

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: www.facebook.com/hayleaheyns

Instagram: @hayleaheyns

Twitter: @hayleaheyns

Webblad: www.hayleaheyns.co.za

YouTube:https://www.youtube.com/channel/UCXggNfsmtEZwSTdYhLFqmBA

TikTok: @hayleaheyns

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *