TikTok-geesdriftiges kan van 15 tot 22 November 2022 uitsien om hulle gunsteling-invloeder, Chané Grobler, op die kassie te sien.
Chané, wat met meer as 2,5 miljoen volgelinge op TikTok (@chanegrobler) spog en bekend is vir haar opbouende video’s, is baie opgewonde om haar toneelspel-vernuf ten toon te stel wanneer sy as haarself verskyn op die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders.
“Ek is nou nog sprakeloos oor dié wonderlike geleentheid wat my te beurt geval het. Om die akteurs wat ek nog al die jare op die kassie sien in die regte lewe te ontmoet en te leer ken vir wie hulle is as mense,” vertel sy opgewonde oor haar ervaring. “Dit was heerlik om woorde te leer, op stel te werk en sommer alles te doen wat daarmee saamgaan. Ek was nog altyd lief vir toneelspeel en sal baie daarvan hou om dit deel te maak van my loopbaan.”
Vir die Binnelanders-span was dit net so ’n voorreg om met ’n ster van haar kaliber te werk.
“Ons het gereken baie van Chané se derduisende volgelinge is seer sekerlik Binnelanders-kykers wat dit sal geniet om haar op skerm te sien. Gelukkig het sy haar oudisie met vlieënde vaandels geslaag – en toe kom ons met die storie vorendag,” sê vervaardiger, Elsje Stark. “Sy was deurgaans voorbereid en uiters professioneel op stel en dit was vir ons ’n vreugde om saam met haar te werk.”
Chané is sedert 2017 op TikTok doenig en het reeds die voorreg gehad om saam met groot name soos Cosmopolitan, Levi’s, Lamborghini, POPL, Warner Music, REVOLVE, Samsung, GHD, Netflix, om maar net ’n paar te noem, te werk.
In 2020 is dié plaaslike internetsensasie benoem vir ’n Nickelodeon Kids’ Choice-toekenning in die Afrika Sosialemediaster-afdeling, saam met nog ’n Suid-Afrikaner, “Aunty Shamilla” – die komediant Prev Reddy.
Chané is in Louis Trichardt gebore en het in Pretoria grootgeword, waar sy vandag nog woon. Nadat sy in 2018 aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer het, het sy onderwys gaan studeer by Aros College. Sy moes egter gedurende haar tweede jaar opskop, omdat sy gesukkel het om haar studies en verantwoordelikhede as invloeder te balanseer.
Sy het op TikTok beland nadat sy Musical.ly op Instagram raakgesien en besluit het om dit af te laai om te sien hoekom mense so baie daarvan hou. Toe die toepassing later na TikTok verander het, het haar video’s geleidelik soos ’n veldbrand begin versprei. Voordat sy haar oë kon uitvee, was sy ’n invloeder en sy het nog nooit teruggekyk nie.
Tans is dié een-en-twintig-jarige besig met finale reëlings vir die #NetMATRIEKS-bootreis waarvan sy deel is in Desember en om ’n paar opwindende projekte te finaliseer.
Sy is ook onlangs aangewys as een van die ambassadeurs van die splinternuwe parfuum-reeks, Tapputi Luxury Perfumes.
Chané glo daaraan om haarself uit te daag om uit haar gemaksone te tree en sy wil graag aanhou bou aan haar sosialemediaplatform en toneelloopbaan, die wêreld sien saam met haar kêrel en ’n verkil maak.
Met haar gasrol in Binnelanders is sy beslis op die regte pad om haar drome te verwesenlik. Onthou om in te skakel!
SOSIALEMEDIASKAKELS:
TikTok: https://vm.tiktok.com/ZSKUP9NS/
Instagram: @chane_grobler18
YouTube: https://youtube.com/channel/UC5WqBoUyJxgs8YVYZacfO0w
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES