Drikus Volschenk by US Woordfees in DEURnis 20-voor-2

Die bekende en geliefde Suid-Afrikaanse akteur, Drikus Volschenk, wat gedurende 2018 te sien was in die derde aflewering van 20th Century Fox se Amerikaanse lokettreffer, Maze Runner: Death Cure, die Afrikaanse kunsfilm, Meerkat Maantuig, SABC 3 se Bedford Wives, Deon Opperman se Hartstog, asook ‘n nuwe reeks, Unmarried, vir Vuzu, sal vanaf 3 – 9 Maart 2019 by die US Woordfees in Stellenbosch in die produksie DROOG te sien wees wat deel vorm van die DEURnis 20-voor-2 konsep, ‘n eerste vir Suid-Afrika.
                
DEURnis 20-voor-2 is vervaardig deur Theatrerocket en word moontlik gemaak deur AK21, NATi en US Woordfees en is ‘n uitbreiding van die een-tot-een ervaring (DEURnis een-tot-een): twee akteurs wat optree tussen 20 gehoorlede. Hierdie ongewone, plekspesifieke teaterervaring ondersoek die grense van teater op ‘n kreatiewe wyse – ideaal vir dié gehoorlid wat meer wil waag. ‘n Kaartjie gee jou toegang tot twee toneelstukke van ongeveer 45 minute elk.
 
Drikus Volschenk en André Lotter is die twee akteurs in DROOG met die teks deur Braam van der Vyver en regie deur Lihan Pretorius.  Vir Vincent (Drikus Volschenk) en Hendri (André Lotter) (twee munisipale amptenaars) is dit net nog ‘n dag by die werk – en gewoonlik maar taamlik saai.  Waterkwotas is egter ‘n realiteit en Dag Zero het aangebreek.  Hoewel die kwik tussen Vincent en Hendri styg, is die watervlak aan’t daal… olie op die vuur – sonder enige water.  ‘n Satiriese en komiese blik op water, die tekort daaraan, korrupsie op voetsoolvlak, en wat jy sal doen vir jou druppel of twee…
 
“Dit is vir my ongelooflik lekker om aan hierdie produksie te werk!  Ons het meestal gelag tydens repetisies en dit is heerlik om net bietjie lekker toneel te speel, dit te geniet en te lag.  Ek is so gewoond aan film en televisie werk, so die feit dat daar nie ‘n kamera hier betrokke is nie en dat ‘n mens so bietjie komedie doen is net fantasties.  Wat dit wel effens moeilik maak is dat ons net twee akteurs is en elke vertoning is 45 minute lank en daar is twee vertonings per dag.  Daar is nie ‘n klomp ander mense op die verhoog waarop jy kan staatmaak nie.  Dis net ek en André en ek moes vining leer om weer my woorde te onthou!  Die produksie is vining met skreeusnaakse oomblike en pittige sê-goed en ‘n ongelooflike tydsberekening wat alles beteken!”, vertel Drikus opgewonde.
 
Kaartjies is beskikbaar by Computicket:
 
http://cms.computicket.com/web/event/deurnis_20_voor_2
 
SOSIALEMEDIASKAKELS: 
 
DRIKUS VOLSCHENK 
Facebook: https://www.facebook.com/DrikusVolschenkOfficial/
Instagram: @drikus.volschenk
Twitter: @DrikusVolschenk

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *