Daar is niks wat ons moraal so kan lig, ons kan laat lag en droom, of ons emosies so kan uitbeeld soos musiek nie. Dit is juis hierdie emosionele verbintenis met musiek wat die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, wat in Brittanje woon, Fransien Scott, geïnspireer het om ’n moderne ballade te skryf wat met die hart praat. STAAN REG gaan daaroor om bereid te wees om te vergeet wanneer verlies te moeilik is om te verwerk.
Volgens Fransien, wat die liedjie geskryf het nadat haar ma met Alzheimer se Siekte gediagnoseer is, was die inspirasie agter die liedjie die verliese wat die mensdom regdeur die lewe ervaar. “Dit is beslis ’n romantisering van die siekte wat natuurlik glad nie so verloop nie, maar dit handel wel oor die verlies van ’n verhouding, van dinge wat jy kan onthou van iemand wat vir jou spesiaal is, of selfs jou behoefte om eerder te vergeet wanneer die waarheid te moeilik is om te aanvaar.”
Fransien skryf gereeld oor emosies. “Verlies is ’n baie bekende emosie vir ons elkeen. Ek skryf graag oor emosies, oor dinge waarmee ons elkeen worstel en kan vereenselwig. Om verlies te hanteer, of dit nou is as gevolg van Alzheimer se Siekte of ’n verhouding wat eindig, ’n baie realistiese tragiese situasie wat baie ervaar. STAAN REG is so geskryf dat dit aanklank kan vind met verskeie situasies.”
Die enkelsnit word gekomplementeer deur ’n musiekvideo, wat volgens die sanger ’n onvergeetlike ervaring was. Dit is in Portugal geskiet en vertel die verhaal van ’n ouer paartjie – wat haar ouers verteenwoordig – se spesiale verhouding. “Ek wou oorspronklik my ma in die video gehad het, maar as gevolg van Covid het ek besluit om dierbare vriende van my hier in Portugal te vra om die rol van my ouers te vertolk. Ek wou graag opregte diep liefde en verhoudings uitbeeld deur twee ouer mense te gebruik wat mekaar reeds jare lank liefhet. Wanneer verlies hier plaasvind, raak dit ons op ’n baie dieper plek in ons binneste, aangesien ons die waarde van hierdie liefde respekteer en besef.”
Sy verduidelik verder dat sy baie versigtig moes wees met die emosies wat sy in die video oordra. “Toe ek dink aan verhoudinge wat reeds jare gevestig is en twee mense wat al deur soveel moeilike en goeie jare mekaar steeds liefhet, het ek besef dat dit juis die ding is wat jongmense vandag kan respekteer en na kan uitsien – om saam oud te word.”
Wat die maak van die video nog meer spesiaal gemaak het, was dat Fransien saam met ’n wonderlike span gewerk het wat gehelp het om haar idee in ’n realiteit te omskep. Volgens haar herinner Portugal haar ook baie aan Suid-Afrika.
Kyk die video hier:
Dié sangeres en liedjieskrywer het in ’n musikale huis grootgeword en met lirieke en melodieë begin eksperimenteer, op haar sussie se klavier, toe sy elf was. Alhoewel sy in drama gespesialiseer het op skool, het sy elke vry oomblik in die musiekafdeling deurgebring waar sy saam met haar vriende liedjies gekomponeer en geharmoniseer het.
Na skool, het sy die groep – Niche – gestig wat deurgedring het na die semi-finaal van die ATKV Crescendo-kompetisie met hulle liedjie, Roei, wat sy met die hulp van die legende, Lucas Maree, geskryf het.
Sy het Besigheidsbestuur en Sielkunde studeer by die Randse Afrikaanse Universiteit en ook haar nagraadse studie voltooi in Hoër Onderwys, waarna sy vir ’n jaar skoolgegee het voordat sy en haar man Engeland toe is vir, wat sy geglo het, ’n kort avontuur sou wees.
Twintig jaar later, woon die paartjie en hulle kinders steeds oorsee. Buiten vir Engeland, het hulle ook vir sewe jaar in Switserland en drie jaar in Spanje gewoon.
Alhoewel sy reeds twee dekades oorsee woon, verkies sy om in haar moedertaal te skryf en sing. “Afrikaans nie net ’n taal nie, maar ’n passie. Ek dink, sing en funksioneer in Afrikaans en het dit ook vir my kinders geleer. Ek glo dat dit noodsaaklik is vir hulle om hulle herkoms te verstaan en te waardeer.”
Verder is sy ook die stigterslid van die vrouebediening, KeeperSoul (vernoem na haar ma se gunsteling-boom, die Kiepersol), skryf sy meestal oor sake van die hart. Sy vind inspirasie in die stories van die dapper vroue, wat hulle ervaringe, suksesse en mislukkings deel tydens KeeperSoul se vrouekampe.
Sy beplan om ’n nuwe album vry te stel later vanjaar, maar bestuur ook ’n liefdadigheidsprojek, Hope-full Boxes, wat behoeftige gesinne in die Filippyne ondersteun.
In hierdie tyd, wat daar soveel verlies is regoor die wêreld, spreek STAAN REG hierdie hartseer emosie aan en vind dit aanklank by gehore van alle ouderdomme.
- Waaroor gaan jou nuwe moderne balade Staan Reg?
Die lied handel oor ons worsteling met verlies en die pyn en hartseer van mislukte verhoudinge. Staan Reg verwys spesifiek na die oomblik in jou lewe wanneer jy besef dat jy gereed voel om die pyn te laat gaan of dat jy finaal kan losmaak van dit wat jou in gevangenskap anker.
- Wie was jou inspirasie om Staan Reg te skryf?
My ma se Alzheimer’s diagnose het my geïnspireer om ‘n lied te skryf waarin Ek spesifiek haar persoonlike ervaring wou weergee . Ek moes myself in haar skoene plaas sodat Ek kon beskryf hoe emisioneel veeleisend die proses moet wees om agter te kom hoe baie verliese mens daagliks, en opnuut weer moet verwerk.
- Wat is die boodskap wat jy hoop mense daar sal uitkry?
Ek wil graag my ma se storie vertel sodat Ek ten einde die realiteit van die onvermydelikheid van verlies en pyn vir ons elkeen kan uitlig, sodat ons nie mense wat pyn het en worstel met verlies verlaat of isoleer in daardie Tye nie.
- Kan jy Staan Reg in 3 woorde beskryf?
Kan dit eindig?
- Wat kan ons nog verwag van Fransien in die toekoms?
Binnekort nog ‘n paar nuwe snitte, en wie weet wat nog!?
- Het jy ’n boodskap vir jou aanhangers wat jou nog altyd ondersteun?
Ek is dankbaar vir elkeen se ondersteuning en hoop Ek kan julle beloon met nog goeie kwaliteit en ‘n verskeidenheid van musiek !
Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms.
Laai dit hier af:
Spotify
https://open.spotify.com/album/2agG1gLtUOOkwi3vHsOSio?si=LfEy-2xjSzGXItriXpvivg
Apple Music
https://music.apple.com/za/album/staan-reg/1549930425?i=1549930426
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/fransienscott
Instagram: @fransienscott
Webblad: www.fransienscott.com
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCXkdIw3ypRAGrcI2OrcXIGQ
SoundCloud: https://soundcloud.com/user62525715