Oor die afgelope paar jaar, het baie Suid-Afrikaners die dapper besluit geneem om ’n nuwe heenkome oorsee te soek.
Hoewel vriende en familie amper altyd probeer verstaan en dié besluit ondersteun, word baie harte in die proses gebreek en dit is presies waaroor Claire Hopkins se nuutste enkelsnit gaan.
“ Baie van my naaste vriende het reeds die land verlaat op soek na nuwe geleenthede. Ek het hierdie liedjie geskryf om te treur oor my verlies, maar ook om hulde te bring aan almal wat die moeilike keuse gemaak het om te emigreer,” verduidelik sy.
GO GETTEM GIRL is ’n country-pop-snit wat reflekteer op die hartverskeurende realiteite waarmee ons tans in die land gekonfronteer word, en die kunstenaar glo dat dit sal aanklank vind by ’n wye gehoor.
Sy voeg by: “Enige verandering in die lewe, hetsy positief of negatief, het sy voor- en nadele. Nie net vir die persoon wat die besluit neem nie, maar ook vir hul naastes. Ek mis my vriende en familie vreeslik baie.”
’ n Musiekvideo oor ’n meisie wat besluit om te emigreer en die verloop van die proses tot sy moet afskeid neem, sal ook binnekort beskikbaar wees. Maar vir nou wil sy nog nie te veel hieroor verklap nie.
Hierdie jong kunstenaar se nuutste vrystelling is haar tweede oorspronklike en vierde algehele enkelsnit – dit volg in die voetspore van Keeper , wat einde 2021 uitgereik is en bo-aan die trefferleer van verskeie groot radiostasies gekuier het.
Oor die sukses van haar eerste enkelsnit sê sy: “ Dit is baie goed deur luisteraars ontvang en dis vir my ’n groot pluimpie dat mense dit so geniet. Omdat dit my eerste oorspronklike snit was, het ek nie veel verwag nie en was daarom aangenaam verras dat dit die treffersparades gehaal het.”
Claire is in Durban gebore en het saam met haar gesin na Johannesburg verhuis toe sy vier was. Sy was haar hele lewe lank passievol oor musiek en het reeds op hoërskool professionele sanglesse ontvang. Op sewentien, het sy haar weergawe van Adele se Someone Like You professioneel laat opneem.
Dié sanger en liedjieskrywer spog met ’n Onderwysdiploma, twee honneursgrade (Opvoedkundige Sielkunde en Remediërende Terapie ) en ’n meestersgraad (Opvoedkundige Sielkunde).
Sy werk tans as ’n sielkundige in die Kaap, waar sy nog besig is om haar voete te vind, maar is vasberade om haar droom om ’n bekende musikant te word te verwesenlik.
Vir Claire, hou haar liefde vir musiek nou verband met haar loopbaan. “As ’n sielkundige, werk ek daagliks met mense se stories, gevoelens, emosies en ervaringe. Op dieselfde manier, skep musiek ’n platform vir mense om hulleself uit te druk en hulle stories te vertel.”
GO GETTEM GIRL is ’n emosionele liedjie wat met die hart praat en gaan beslis help om hierdie veelsydige talent verder te vestig in die musiekbedryf!
Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://open.spotify.com/track/2CboEnkDLOIFIfBNkRNNkl?si=vqSmpHOYRjuM8m9OYMBGEA
https://youtu.be/xG_ec1w-7W4
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/claire.hopkins.923/
Instagram: @claire_bear_hopkins
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCPLDwpzRD-JBQGELjnOxQTw/featured
TikTok: @clairehopkins357
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES