
Daar is baie jong meisies wat daarvan droom om ’n plekkie in die kollig te hê, hetsy as ’n aktrise, model, sanger, televisieaanbieder, besigheidsvrou, joernalis, glanspersoonlikheid of sosialemedia-ster. Dit is egter nie so maklik en glansryk as wat dit klink nie en verg baie harde werk en natuurlik die regte kontakte om ’n voet in die deur te kry.
Die vrouebemagtigingsprojek, Apprentesses SA, help reeds sedert 2014 om vroue – tussen die ouderdom van 20 en 35 – se droom op haar eie plekkie in die ‘vermaakson’ te bewaarheid. Vanjaar trek hierdie suksesvolle inisiatief ’n splinternuwe baadjie aan in die vorm van ’n realiteitsprogram, STER-STATUS, wat vanaf 5 Augustus 2019, elke Maandag om 18h00, op VIA (kanaal 147) uitgesaai sal word.
Luré Delport, verlede jaar se wenner, sal die eerste amptelike aanbieder van STER-STATUS wees, waarna 2019 se wenner by haar die leisels sal oorneem. “Die rede hiervoor is juis om verlede jaar se wenner verder te bemagtig en haar platform outomaties te vergroot deur vir haar ’n geleentheid te gee om ’n televisieaanbieder te wees,” verduidelik stigterslid en uitvoerende direkteur van Apprentesses SA, Tarien Cronjé. “Akteur, David Konrad (Binnelanders, Getroud met Rugby) gaan dan ook vir Luré deur die hele aanbiedingsproses mentor en raadgee gedurende die program en haar reis gaan ook op kamera vasgevang word.”

Die doel van hierdie realiteitskompetisie is om jong vroue (millenniërs) aan die vermaakbedryf bekend te stel deur middel van werkswinkels, opleidingsessies en verskeie uitdagings om hulle voor te berei op ’n lewe in die kollig. Na elke fase van die kompetisie sal van die deelnemers, wat nie die mas opgekom het nie, uitgeskakel word. Alhoewel daar net een wenner kan wees, sal elke deelnemer voordeel trek uit hierdie ervaring, juis omdat hulle op verskeie sosiale platforms blootstelling kry, gaan leer hoe om hulleself behoorlik te stileer, verhoudings gaan bou met kenners in die bedryf, ’n verskil kan maak met liefdadigheidswerk en ook die geleentheid sal hê om as handelsmerkverteenwoordigers op te tree.
Verskeie bekendes (Leandie du Randt, Deon Groot, Francois Olivier, David Konrad, Amorie Pearson, Pamela Niemand) en besighede (PNB, Aesthetica, SL Lasers, Royal Elephant Hotel, Indaba Hotel) gaan almal deel wees van die program en talle organisasies (Hanna Charity, CHOC, Gracia, ensovoorts) sal baat by die liefdadigheidsaspek daarvan.
Volgens Tarien is Apprentesses SA se doel om vroue ’n geleentheid in die vermaakbedryf te gee deur hulle toe te rus met die nodige gereedskap, raad, kontakte en geleenthede, sodat hulle genoeg selfvertroue kan opbou om hulle drome na te jaag. Die projek fokus hoofsaaklik daarop om hierdie dames te bemagtig, maar hulle ook aan te moedig om terug te gee aan die gemeenskap deur middel van liefdadigheidswerk.
“Ek besit ’n ontwerpersbesigheid, Kyna Consili, en het al baie gesien hoe meisies in trane uitbars wanneer hulle die perfekte rok aanhet en besef hoe mooi hulle is. Op daardie oomblik straal hulle, omdat hulle oor die algemeen glo dat hulle nie waardig is om hulle drome waar te maak nie. Hulle is wel dikwels so desperaat wanneer hulle wel die kans kry, dat hulle in soms in slegte situasie beland,” vertel sy. “Apprentesses SA is dus gebore uit sulke vroue se behoefte aan mentorskap en leiding om hulle drome na te jaag en struikelblokke te oorkom.”

Die heel eerste seisoen van STER-STATUS sal in ses episodes aangebied word waartydens die wenner en naaswenners, tydens die gala-aand by Atterbury Theatre in Pretoria, aangekondig sal word op 10 Augustus 2019.
Hierdie glansgeleentheid sal vir deelnemers ’n voorsmakie gee van wat hulle van ’n BBP-leefstyl kan verwag en beloof om ’n spoggerige funksie te wees wat alles gaan insluit, van aankoms op die rooitapyt saam met van die grootste sterre in die land en media-onderhoude tot vonkelwyn, flitsende kameras en die kans om die land op die verhoog te betower.
Familie en vriende kan ook deel wees van die STER-STATUS FINAAL. Kaartjies vir hierdie formele geleentheid sal beskikbaar wees op iTickets en sal wissel tussen R160 en R250 per persoon. Verrigtinge op die rooitapyt sal om 18h00 afskop, waarna gaste vir ongeveer twee ure vermaak sal word met videos van die deelnemers se reis op die program, lewendige vermaak deur bekende kunstenaars en die aankondiging van die wenner. Groenland Wines sal gaan ook sorg dat daar genoeg wynvoorraad is om ’n glasie of twee op die deelnemers te klink gedurende die aand. Hou gerus sosiale media dop vir meer inligting hieroor.
“Buiten vir die feit dat ons die werk wat Apprentesses SA doen vir die eerste keer, in televisieformaat, met VIA-kykers kan deel, is hierdie jaar se kompetisie ook ekstra-spesiaal omdat ons dit opdra aan een van ons deelnemers, Kayla Burger, wat ’n paar weke terug in ’n motorongeluk oorlede is,” verklap Tarien. “Sy en haar niggie, Alicia, het saam ingeskryf en die ongeluk het al die meisies diep geraak. Die mooi deel was egter hoe al die deelnemers hierdie familie soos ’n eenheid ondersteun het. Alicia pak dus die res van haar reis aan ter nagedagtenis aan Kayla.”
STER-STATUS beloof om hierdie Vrouemaand diegene wat mal is oor realiteitsprogramme en ’n hart het vir liefdadigheid vasgenael te hou voor die kassie en is net nog ’n goeie bewys van wat bereik kan word wanneer iemand bereid is om in ’n droom te belê.
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/Apprentesses/
Instagram: @apprentessessa
Webblad: www.apprentesses.co.za
Hutsmerke: #sterstatus #viatv #apprentessessa
PUBLISITEIT EN BEMARKING
Starburst Promosies
FOTO KREDIET: Marilize Coetzee Photography