VOORMALIGE OVERTONE-LID, EMILE WELMAN, SPESIAAL IN SUID-AFRIKA OM EERSTE AFRIKAANSE ENKELSNIT & MUSIEKVIDEO VRY TE STEL

Die vyf-en-dertigjarige sanger en liedjieskrywer, Emile Welman wat in Pretoria gebore is en tans in Newport Beach, Kalifornië woon is geen gewone kunstenaar is nie. Loer jy so bietjie na sy Instagram-profiel kom jy baie vinnig agter hierdie “crooner” braai saam met Clint Eastwood, kuier by Charlize Theron en hang uit saam met ’n rits ander internasionale bekendes – ’n lewe van styl en swier, nét soos in die flieks! Kyk jy bietjie nader sien jy dit – OVERTONE – en vir jou Suid-Afrikaanse brein maak alles skielik sin!  

Emile wat na skool ’n beurs gekry om Regte te studeer by RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) het gedurende daardie tyd sy passie vir musiek ontdek, met sy praktiese opleiding as prokureur begin en die groep – Overtone – gestig. Na ’n optrede in Kaapstad, het hulle die oog gevang van die legendariese akteur en regisseur, Clint Eastwood, se vrou, Dina Eastwood. Sy was so beïndruk met Emile se stem en die groep se kragtige verhoogoptrede, dat sy hulle aan haar man voorgestel het. Dit het hom laat besluit om die groep te gebruik op verskeie snitte op die klankbaan van sy 2009 rugbyrolprent, Invictus. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. 

As deel van Overtone, het Emile die voorreg gehad om saam met mense soos die Oscar-wenner Charlize Theron, hoteleienaar Steve Wynn, en die musiek-ikoon Tony Bennett (wat Emile se stem met die van Frank Sinatra vergelyk het) te werk. Verder het hulle ook die verhoog gedeel met OneRepublic, Grammy-wenner Corinne Bailey Rae, akteur Kevin Bacon, en vervaardiger David Foster. Die groep het ook op The Ellen DeGeneres Show, The Late Late Show with Craig Ferguson en Lopez Tonight verskyn en verskeie Suid-Afrikaanse VONK-musiektoekennings gewen.  

Maar nou het die tyd aangebreek vir dié Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en komponis, om sy eerste Afrikaanse solo-enkelsnit, SPROKIESLAND, vry te stel en hiervoor het hy spesiaal Suid-Afrika toe gereis.   In die verlede het hy wel musiek vrygestel as deel van die groep, Overtone. Internasionaal het hy drie enkelsnitte in die VSA en een in Australië uitgereik. “My styl hang af van die liedjie wat ek vrystel,” verduidelik hy. “Elke land se musieksmaak verskil en jy moet by daardie mark aanpas. Ek het dus al alle tipe genres gedoen, van pop tot jazz, kletsrym en nou is dit tyd vir my eie taal – Afrikaans.” 

Hierdie indrukwekkende pop-ballade vertel die storie van ’n paartjie wat ’n romantiese afspraak op die strand het. Hulle bly laat uit en die man besef dat sy die een is. Dit is ’n vars briesie in die Afrikaanse musiekmark, met ’n lekkerluister-wysie en pragtige storie en Emile Welman se stem gaan jou asem wegslaan!

Emile deel dat sy pa die inspirasie agter die liedjie was. “In Julie 2019 is my pa met fase vier Lewerkanker gediagnoseer. Op daardie stadium het ek reeds vir tien jaar in die Amerika gewoon en slegs een of twee keer per jaar in Suid-Afrika kom kuier. My pa was mal oor Afrikaanse musiek en ek wou iets skryf waarvan hy sou hou en sou waardeer. Iets waarna hy kon luister en op trots wees. Ek het dus die liedjie geskryf in die hoop om dit so gou as moontlik op die radio te kry. Ongelukkig het my pa se toestand drasties verswak en hy is in Februarie 2020, terwyl ek op toer was in Australië, oorlede. Hy het nooit die liedjie gehoor nie, maar ek is vasberade om hom steeds trots te maak.” 

Sy solo-loopbaan het in 2012 afgeskop. Sy eerste enkelsnit, Love Away, is in 2013 vrygestel, nadat hy by verskeie universiteitskonserte regoor Los Angeles opgetree het. Hy het ook in dieselfde jaar Best of Me uitgereik en in 2016 Just a Little More. In 2015 het hy aangesluit by die Crooner’s Club in Kalifornië saam met Hugh Sheridan en Gabe Roland, waarna hulle na Australië getoer het. Meer onlangs is hy bekroon met die Beste Nuweling– en Algehele Beste Kunstenaar-toekennings by die wêreld se tweede grootste musiekfees in Australië.  

Alhoewel hy konstant nuwe musiek skryf en komponeer, is die sanger ook besig om ’n televisiereeks vir FOX in Amerika te verfilm. Hy werk ook aan die klankbane van verskeie nuwe rolprente en sien uit daarna om, nadat Covid bedaar het, weer te reis en regoor die wêreld op te tree. 

Buiten daarvoor om hulde te bring aan sy oorlede pa, hoop Emile ook dat SPROKIESLAND hom sal help om jongmense te inspireer. “Ek dink baie kinders word groot met die idee dat die wêreld slegs bestaan uit die dinge rondom hulle. Aan hulle wil ek bewys dat harde werk, selfdissipline en motivering hulle wêreld meer kan verbreed as wat hulle ooit sou kon droom. Jy kan wees en bereik wat jy graag wil.” 

Met sy uitmuntende verhoogpersoonlikheid, strelende stem en unieke klank, gaan Emile beslis nog vir ’n lang ruk aanhou om plaaslike en internasionale gehore te bekoor en ons is trots om hom vir ‘n rukkie terug in Suid-Afrika te kan hê.

Hoekom het jy besluit om ’n solo kunstenaar te word?

Musiek is in my bloed, ek het nooit regtig gedink daaraan om n solo kunstenaar te word nie tot die geleentheid hom self gebied het. Musiek is soos asem haal vir my. Daar is nie n dag wat verby gaan waar ek nie sing of skryf of optree nie. Ek is letterlik depressed wanneer ek nie musiek kan doen nie.

COVID het regtig vir my getoets maar ek is dankbaar dat my vrou ingegee het en toegestem het dat ek n klavier in die huis sit al maak dit haar mal as sy op oproepe moet wees vir werk!

Waar oor gaan jou nuwe enkelsnit Sprokiesland?

Die nuwe song is regtig oor my eerste “date night” met my vrou in suid Afrika. Sy het saam met my gekom n paar jaar gelede en ons was by my ma en pa se huis in plettenberg baai. Ons het n bottel wyn gevat en op die strand gesit toe dit begin reen het en sy het net spontaan begin dans. Letterlik pap nat gereen en dit was daardie aand wat ek besef het dat sy my vrou gaan wees.

Is daar ’n boodskap in jou nuwe enkelsnit?

Ek sou nie se daar is n boodskap in die song nie behalwe vir n “love story” maar wat ek wel kan se is dat ek hoop met die liedjie wat nou uit is Sal jong mense Sien dat dit moontlik is om jou drome te volg. Ek voel ek is bewys dat as jy hard werk en goeie self disipline het kan jy doen net wat jy wil.

Ek is bevooreg genoeg om te werk met van Die grootste name in musiek en film en die enigste rede hoekom ek dit kon doen is omdat ek my “gat” af gewerk het en nooit my oog van die bal afgehaal het nie. As n geleentheid daar is moet jy gereed wees. Doen die werk nou en dan Sal alles uiteindelik in plek val!

Wat hoop jy sal jou luisternaars uit Sprokiesland kry?

N warm gevoel van liefde en hoop. Ek wil hé jy moet jou geliefde bel en vir hulle se hoe lief jy vir hulle is. Onthou hoe dit was die eerste keer wat jy besef het dat jy smoorverlief is.

Jou pa was jou inspirasie vir jou nuwe enkelsnit, hoe het jou geinspireer?

My pa was gediagnoseer met kanker in September 2019. Ek het dadelik terug gevlieg van Amerika af en kom tyd spandeer met pa. Hy was verskriklik lief vir afrikaanse musiek. Ons het gepraat en ek het geweet dit gaan n moeilike jaar wees vorentoe met chemotherapie en bestraling. Ek het toe besluit om n afrikaanse lied te doen sodat ek kon aanhou werk en kreatief wees met die dat ek meer gereeld in suid afrika wou wees.

Ek het begin werk met vonk aan die nuwe song en het intussen moes terug Amerika toe en toe op toer gaan in Australia. Op die 16de februarie, 10 min voor ek op die verhoog moes klim voor 2000 mense in Adelaide het ek die oproep gekry van my sister af dat my pa oorlede was. Ek het daai vertoning gedoen en die res van die toer gekanseleer. Pa het nooit die song gehoor nie maar ek was gedetermineerd om steeds die song te release. Ek dink en hoop hy sou trots gewees het.

Het jy ’n boodskap van hoop vir jong talentvolle kunstenaars wat in jou voetspore wil volg?

Ja, ek sou se glo in wat jy doen en wees voorbereid. Jy weet nooit wanneer jy n geleentheid gaan kry nie. So wees gereed as jy hom kry. Jou wereld kan so groot of klein wees as wat jy wil. Alles is in jou eie hande. Self disipline en hard werkende mense kom Altyd by die wenpaal uit een of ander tyd.

Wat kan ons nog verwag van Emile Welman in 2021?

Hopelik nog n afrikaanse lied maar in tussen Sal ek ook werk aan nuwe tv show vir Fox en ek doen ook musiek vir n paar nuwe films. As COVID toelaat Sal ek ook op toer wees in Australia, suid afrika en miskien Nederland. 

‘n Musiekvideo vir SPROKIESLAND sal teen die begin van Julie 2021 uitgereik word.

SPROKIESLAND is nou op digitale platforms beskikbaar. Laai dit hier af: xxx

SOSIALEMEDIASKAKELS: 

Facebook: https://www.facebook.com/emilewelmanmusic 

Instagram: @emilewelman

Webblad: www.emilewelman.com

YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=AcvYgxzFyCY

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *