TWEE SE HERMAN KLEINHANS REIK ’N SOLO-ALBUM UIT

Daar is min sangers wat dit regkry om musiek te skep wat regtig met die hart praat. Met sy nuutste album, RUITE OOP, bewys Herman Kleinhans weereens dat hy een van die min liedjieskrywers is wat hierdie kuns vervolmaak het en beweeg hy ook ietwat uit sy gemaksone met ’n ligter nommertjie of twee.

Dié wenner van Afri-Visie se liedjieskryfkompetisie se nuutste ateljee-album, wat alles bevat van emosionele liefdesballades tot lighartige kuiermusiek, het ’n volwasse kontemporêre klank en is die resultaat van maande se beplanning en harde werk. Dit spog met 12 snitte, wat grotendeels uit sy eie pen kom, met die uitsondering van drie liedjies waarvan hy twee saam met Bok van Blerk en een – Ons Kan – saam met sy meisie, Maryke, geskryf het.

“Die tema van die album is ‘Lewe in Suid-Afrika’ en baie onderwerpe word aangespreek – van depressie tot liefde. Dit was vir my belangrik dat elke snit van uitsonderlike gehalte moes wees, omdat ek dit vir ’n geruime tydjie gaan moet sing. Ek maak juis oor hierdie rede nie eintlik kommersiële musiek nie, omdat ek dit nooit geloofwaardig sal kan sing by vertonings nie,” vertel hy.

“Hierdie album is egter ’n poging om bietjie nader te kom aan die mark wat gedink het ‘Kamer 4’ is mooi, maar te rustig. Tertius Human en al die ander musikante aan boord, het hulle skitterend van hulle taak gekwyt en die album vloei lekker. So, ek sien uit daarna om te hoor wat mense dink.”

Alhoewel hy nie regtig gunstelinge wil uitsonder nie, meen hy dat Messelaaren Brandewyn Drink vir hom uitstaan, omdat beide snitte baie goed ontwikkel het. “‘Messelaar’ handel oor depressie en het regtig ontaard in iets spesiaal. In sterk kontras daarmee, is ‘Brandewyn Drink’ wat ’n vrolike lekkerluisterliedjie is en mense laat goed voel,” verduidelik die ster en volgens hom behoort die titelsnit ook aanklank te vind by ’n wye gehoor.

“Na hierdie jaar dink ek ons almal wil net weer die langpad aandurf en beweeg en dit is waaroor die liedjie gaan. Goeie ventilasie maak natuurlik ook die wêreld se verskil in ons stryd teen die virus, so dalk red die titelsnit iemand se lewe eendag.”

Sy nuutste enkelsnit, Vliegtuig, is pas uitgereik en gaan oor sy verhouding met die liefde van sy lewe, Maryke, wat hy op Tinder ontmoet het. “Ek het eendag Maryke se kombuistafel vol sout gelos nadat ek springmielies gemaak het. Daarna het ek haar bed deurmekaar gemaak nadat sy dit reeds opgemaak het. Sy het dit geensins waardeer nie. Ek het die liedjie geskryf om op te maak. Die titel, ‘Vliegtuig’, kom van ons droom af om eendag saam ’n vliegtuig te besit,” verklap die kunstenaar oor die tema agter dié nuwe vrystelling wat reeds deur verskeie radiostasies gespeel word.

Die video is op verskeie plekke in die paartjie se tuisdorp, Port Elizabeth, verfilm deur Wian van der Walt van die Coolerbox Brothers. Dit wys hoe hulle liefde in hierdie ou stad floreer. “In die video besoek ek en Maryke van ons kleintydplekke. Van die huise waarin ons groot geword het, ons skole en kerk, tot ons gunsteling Chinese wegneemrestaurant. Daar waar ons paaie konstant moes gekruis het, sonder ons medewete. Ons het ook besluit met hierdie projek te wys hoe mooi ons stad is,” deel hy.

Kyk die video hier:
https://youtu.be/nA8JB1aKu1E

 

Hy is verder ook ongelooflik trots op die feit dat sy nuwe album saam met sy eie toepassing, ShareTime, uitgereik word. Die doel hiervan is om ’n platform te skep wat dit vir mense maklik maak om mekaar te help met hulle tyd en hy glo dat dit regtig ’n verskil kan maak.

Dan is die liedjie, Ek Wonder, wat óók op die album verskyn, die amptelike temalied vir Solidariteit Helpende Hand en Boere Droogtehulp SA NPC vir die Projek 40 inisiatief wat gesorg het dat veertig trokke vol voer afgestuur kon word na Beaufort-Wes.  Hierdie inisiatief het ook gesorg dat veertig behoeftige studente in 2021 sal kan gaan studeer.  Lees meer oor hierdie merkwaardige projek hier: Projek40 | Solidariteit Helpende Hand / www.projek40.co.za

Die musiekvideo vir Ek Wonder sal gedurende die week van 7 Desember 2020 bekendgestel word.  Hou gerus Helpende Hand se sosialemedia dop.

Herman is in Sunland in die Oos-Kaap gebore. Sy liefde vir sing is reeds op ’n jong ouderdom gebore en is geïnspireer deur sy pa, wat altyd kitaar gespeel en gesing het wanneer vriende kom braai het. Hy sing al van die laerskool af in die koor en was in die hoërskool in die musiekgroep, Slagyster, wat die treffer Kantlyn uitgebring het wat vir ses weke nommer een was op MK89 se 6@6. Hy het egter eers in 2012 begin om voltyds musiek te maak en is nou reeds sestien jaar doenig in die musiekbedryf.

Oor die jare het hy die voorreg gehad om saam met verskeie groot name in die bedryf te werk en het hy talle loopbaanhoogtepunte bereik, waaronder ’n Ghoema-toekenning vir die Publiek se Gunsteling-Duo of Groep as deel van die groep, TWEE, asook ’n SAFTA-benoeming vir die musiek wat hy en Dawie de Jager vir die kykNET-reeks, Alles Malan, geskep het.

Wanneer hy nie sing nie, hou hy homself besig met die ontwikkeling en bemarking van sy nuwe toep, asook sy twee ander besighede, TWEE Vellies en TWEE Plakkers, wat hy en Maryke saam bestuur.

Die sanger het groot bewondering vir plaaslike sangers soos Coenie de Villiers en Stef Bos se menswees en geniet die musiek van internasionale groepe soos Queen, Kings of Leon, Dire Straits, Mumford and Sons en Coldplay.

Herman glo dat die lewe is wat jy daarvan maak en hy fokus hard daarop om al sy passies behoorlik uit te leef. Sy nuwe album is ’n versameling van die mooiste hartsmusiek, wat sag is op die oor, en jou laat uitsien na ’n rustige kuier voor die kaggel of saam met vriende om die vuur. Sy unieke aanslag, veelsydigheid en strelende stem is die perfekte bestanddele vir ’n wenresep wat nog vir jare hierna gewild gaan wees.

LYS VAN SNITTE

Vliegtuig

Beter As Gister

1000 Koffies

Droom

Ruite Oop

Brandewyn Drink

Haal ’n Bietjie Asem

Ek Wonder

Dankie

Messelaar

Waar’s Jy?

Ons Kan 

Laai die album hier af: https://lnk.to/081txIZY

SOSIALE MEDIA SKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/hermankmusiek

Twitter: @HermanMusiek

Instagram: @hermankleinhans

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCipCFcgkd31TNH_2fxlJ_dw 

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Foto Krediet:  Voetpad Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *