Reggie Peace, Petronel Baard en Kayczwe Nkosi bemoedig alle Suid-Afrikaanse vrou met nuwe enkelsnit!

Wat gebeur wanneer drie diverse kunstenaars besluit om saam ’n liedjie op te neem om Suid-Afrikaanse vroue te vier..? ’n Voetjeuklekker Afro-popsnit word vrygestel, wat net so mooi en uniek is soos die kleurvolle evas wat dit geïnspireer het.

Reggie Peace, Petronel Baard en KayCzwe Nkosi het kragte saamgespan om lewe te gee aan ’n konsep wat deur Reggie en vervaardiger, DJ Darkness, geskep is.

AFRICAN QUEEN is ’n liedjie wat die ‘koninginne van Afrika (vroue van alle rasse in Suid-Afrika/ Afrika)’ aanmoedig om hulle plekke in te neem deur sterk te staan en hulself te aanvaar net soos wat hulle is”, verklap Reggie oor dié treffer wat deur geslagsgeweld in grendeltyd geïnspireer is.

“Dis ’n lekker drietalige snit, met ’n goedvoel-boodskap van versoening wat ons almal nodig het,” voeg Petronel by. “Vroue moet leer om lief te wees vir hulleself en in ’n land wat geteister word deur geslagsmisdaad, is dit ’n baie nodige boodskap. Reggie sing ‘African Queen, love yourself’ en ons eggo dit om die woorde te beaam.”

Alhoewel die liedjie Reggie se breinkind is, het Petronel en KayCzwe self geskryf aan die gedeeltes wat hulle sing wat die eindresultaat baie uniek maak. “Ek het dadelik belanggestel toe Reggie my vir hierdie projek nader. My pa is onlangs oorlede, wat my net weer bewus gemaak het van hoe nodig dit is om die vroue in ons lewens te ondersteun,” sê KayCzwe. “Mense hou oor die algemeen van musiek wat hulle laat goed voel, maar steeds ’n boodskap. Hierdie liedjie bevat beslis al daardie bestanddele en het die potensiaal om ons nasie te verenig.”

Volgens Reggie het hy dit baie geniet om saam met Petronel en KayCzwe aan die liedjie te werk en glo hy dat dit by ’n wye gehoor sal aanklank vind. “Ons is drie kunstenaars, van verskillende agtergronde en kulture, maar musiek bring ons saam en saam wil ons die vroue van ons land en kontinent bemoedig.”

Petronel verklap dat alhoewel sy en Reggie nog nooit in persoon ontmoet het nie, sy ongelooflik baie respek het vir hom as kunstenaar en dat dit ’n voorreg was om saam met hom en KayCzwe te werk. KayCzwe is ook baie opgewonde oor die goeie verhoudings wat uit hierdie geleentheid gebou is. “Dit was baie maklik om saam met Reggie en Petronel te werk, omdat ons almal hardwerkend is en presies weet wat ons wil bereik.”

Reggie Peace, oftewel Reginald Hufkie, is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, draaiboek- en liedjieskrywer van Schauderville in Port Elizabeth. Hy werk al sedert 2011 in die vermaakbedryf en was oor die jare deel van verskeie suksesvolle kortfilms, verhoogproduksies, advertensies, televisieprogramme en musiekgroepe.

As solo-kunstenaar, is hy veral bekend vir enkelsnitte soos  Frequency, Do It – Peacemaker, Hoekom?, Kos Op Die Tafel (KODT), All That Matters, Better, en Move. Hy is tans besig om te werk aan materiaal vir sy album én met die voorbereiding van Onvertelde Verhale wat op Trots TV uitgesaai gaan word.

Petronel Baard het in Villiersdorp grootgeword en sing al van jongs af. Na skool het sy Drama by Stellenbosch gaan studeer, waar sy aan die einde van haar honneursjaar die ATKV Crescendo-kompetisie gewen en voltyds by die vermaakbedryf betrokke geraak het.

Dié veelsydige musikant het al ses albums en verskeie treffers (soos Life is Good en Akkerblare) op haar kerfstok, waarvan haar debuut-album, Lank Al, benoem is vir ’n SAMA en twee Geraas-musiektoekennings. Sy werk tans voltyds saam met Cordis Trust om Afrikaanse kuns en kultuur te bevorder en is sy besig met ’n nuwe album en projek wat oor vroue gaan..

KayCzwe Nkosi, oftewel Khanyisizwe Nkosi, is ’n Gauntengse musikant van Mbombela in Mpumalanga met ’n graad in rekeningkunde. Op universiteit was hy deel van die gewilde kampusmusiekgroep, The Bandwagon, wat die verhoog gedeel het met groot name soos The Muffinz, The Layders en The Fridge by die SOUT FEST in 2012.

Wanneer hy nie musiek maak nie, werk hy as transformasie-ontleder in die olie- en gasbedryf. Hy hoop om vroeg in 2021 sy eerste solo-musiekprojek vry te stel en werk tans hard om hierdie droom te verwesenlik.

Reggie, Petronel en KayCzwe se unieke stemme en style is die perfekte pasmaats vir ’n treffende eindresultaat wat diep tref. AFRICAN QUEEN se lekkerluister-wysie en opbouende lirieke is iets wat in jou kop bly maal en ’n boodskap wat elke Suid-Afrikaanse vrou moet hoor. Die snit is nie net ’n bewys van die drie musikante se talent nie, maar is een van daardie liedjies wat nog vir baie jare op almal se lippe gaan wees.

Kry die liedjie hier:

https://music.apple.com/za/album/african-queen-single/1532427133
https://open.spotify.com/track/0XSGY9kK9H2vCAK9doJifo?si=AjyO5eP2Sj2UUZTylcifaQ

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Reggie Peace

Facebook: https://www.facebook.com/ReggiePeaceInt/

Instagram: @reggiepeace

Petronel Baard

Facebook: https://www.facebook.com/petronelbaardofficial/

Twitter: @PetronelBaard

Instagram: @petronelbaardmusic

Webblad: www.petronelbaard.com

KayCzwe Nkosi

Facebook: https://www.facebook.com/nkhanyisizwe

Instagram: @kayczwe

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *