
One Voice het reeds met die intrapslag bewys dat hulle ’n musiekgroep is om mee rekening te hou en met die vrystelling van hulle tweede oorspronklike enkelsnit gaan dié evas nou ook op die dansvloer koning kraai.
WAKE UP kan beskryf word as ’n energieke danssnit, wat deur Lientjie Sothman geskep is om lewe te blaas in enige partytjie. Dit gaan daaroor dat wanneer musiek jou lyf oorneem, jy vir ’n oomblik van jou sorge kan vergeet en vry kan wees.
“Die lirieke van die liedjie is geïnspireer deur mense se interaksie met mekaar. Dit wil voorkom asof niemand meer die mooi in die lewe raaksien nie en daarom geen vreugde vind nie,” verklap die meisies oor hulle almal se gunsteling-snit op hulle selfgetitelde album. “WAKE UP is geskryf om luisteraars daaraan te herinner dat daar wel wonderlike en suiwer dinge rondom hulle is en dat die lewe gaan oor meer as net werk en geld.”
Hierdie snit pas die viermanskap soos ’n handskoen en is ’n lekker liedjie om tydens lewendige optredes te doen, omdat dit die gehoor intrek. “Ons dink dat die publiek dit positief gaan ontvang, omdat dit ’n moderne klank het en jou wil laat dans as jy dit hoor,” sê hulle.
WAKE UP volg kort op die hakke van hulle vorige musiekvideo’s Sucker en Secret Love Song, wat baie goed ontvang is en reeds ’n paar duisend trefslae op YouTube gehad het. Droomplaneet, hulle eerste oorspronklike enkelsnit, het baie goed presteer en kan steeds oor die radio gehoor word.
One Voice bestaan uit Kalinka Kilian, Carla Strauss, Karma Coetzer en Janke Bester. Die groep, wat beskryf kan word as vier unieke stemme wat saamgesmelt het om ’n vars en unieke popklank te skep, het in 2018 ontstaan nadat die meisies besluit het om hulle musiektalent te kombineer om iets ongewoon met die plaaslike mark te deel. Die groep is passievol oor musiek en straal ’n besonderse energie uit wanneer hulle op die verhoog is.

Tans is hulle besig om te werk aan oorspronklike musiek vir hulle volgende album en om aanlyn-konserte en optredes vir die res van die jaar te beplan. “Ons wil graag hierdie jaar ook begin teruggee aan die gemeenskap. Aanhangers kan dus ons sosiale media dophou vir nuwe en opwindende dinge,” vertel hulle opgewonde.
Een brokkie opwindende nuus, is dat die meisies pas aangekondig dat hulle later vanjaar ’n liedjie gaan opneem en vrystel vir die Toys for Africa Foundation en die Kinderbeskermingshulplyn (Child Protection Hotline) om moed te gee vir kinders wat mishandel en geboelie word. “Die rede hoekom ons besluit het om betrokke te raak by die projek is omdat ons voel dat hierdie kwessies so werklik is in ons samelewing vandag. Selfs ons en mense wat ons ken is al geraak hierdeur,” sê die groep oor hoekom hulle by dié inisiatief betrokke geraak het. “Ons verstaan hoe moeilik dit kan wees om vir hulp te vra of selfs om net te erken dat jy dit nodig het. Deur ons betrokkenheid wil ons graag vir mense wys dat dit okay is om partykeer weerloos te wees en om op iemand anders te steun. Al word net een persoon positief beïnvloed deur hierdeur, het ons in ons doel geslaag.”
Die Toys for Africa Foundation en die Kinderbeskermingshulplyn se doel is om seker te maak dat kinders veilig is en beskerm word deur ’n boodskap van hoop met skoolkinders, regoor die land, te deel. “Ons besef dat musiek ’n sterk medium is, wat baie kinders gebruik om van hulle realiteit te ontsnap. Dit is hoekom ons gedink het dat ’n liedjie hoop kan bring vir diegene wat hopeloos voel,” sê Danie van Loggerenberg, die stigterslid en direkteur van die Toys for Africa Foundation. “Aangesien musiek nie een van ons talente is nie, was ons bly toe ons aan One Voice se lede voorgestel is wat vinnig met ’n idee en konsep vir ons projek opgekom het. Dit word binnekort vrygestel en gaan selfs vir nog meer kinders hoop bring. Geen kind moet ooit mishandel word nie. Ons dienste is gratis, vir meer inligting besoek www.toysforafrica.org.za.”
WAKE UP is ’n lekkerluister-popliedjie, met ’n verslawende dansritme en lirieke wat luisteraars sal uitnooi om saam te sing. Met hierdie moderne snit bewys die meisies van One Voice weereens dat hulle kan kersvashou by van die grootste sterre in die wêreld.
WAKE UP is beskikbaar op hulle debuut-album hier: https://music.apple.com/za/album/one-voice/1469311205
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/onevoice4/
Instagram: @_one__voice_
Webblad: www.onevoice.co.za
BESPREKINGS:
E-pos: info@starburstmusic.co.za