Liefde en positiwiteit seëvier in nuwe Jan Rhaap-Album

Drie albums, twaalf enkelsnitte en verskeie musiektoekenningbenoemings later, is die talentvolle musikant en liedjieskrywer, Jan Rhaap terug in die kollig met ’n splinternuwe album, enkelsnit en musiekvideo wat verseker om bewonderaars se stoutste verwagtinge te oortref.

ELMBOOG NA BO spog met dertien oorspronklike snitte wat almal noukeurig gekies en verwerk is om die perfekte eindproduk te skep. Hy het juis voorbrand vir die album met dié titelsnit gemaak toe hy onlangs ‘n musiekvideo saam met die ELMBOOG NA BO-uitdaging op sosiale media van stapel gestuur het. Tydens hierdie uitdaging word jy uitgedaag om, op video, ’n shooter van jou keuse in die vou van jou arm vas te knyp en te drink en dan jou vriende uit te daag om dieselfde te doen. En natuurlik is Suid-Afrikaners gaande daaroor en daag almal mekaar oor en weer uit wat groot pret tot gevolg het en vir heerlike kykgenot sorg!

Kyk die video hier: https://youtu.be/o9fwZtbmHos

Oor die res van die album vertel Jan: “Elke liedjie wat ons gekies het, moes op sy eie manier bydra tot die algehele storie, boodskap en gevoel van die album. Ek het self baie van die skryfwerk gedoen, maar ook saam met ander skrywers gewerk soos Juan Boucher, Loki Rothman, Munro du Toit en Adriaan van der Merwe. Ek skryf altyd oor dinge wat ek in my eie lewe sien en ervaar. My musiek is stukkies van myself as mens.”

Vir Jan Rhaap is elke liedjie vir hom spesiaal en kan hy nie ’n gunsteling uitsonder nie. Hy meen egter dat KOM LOOP, sy nuutste enkelsnit, wat nou saam met die album uitgereik word die potensiaal het om ’n treffer te wees, omdat die lirieke baie relevant en die wysie baie aansteeklik is.

“Wêreldwyd gaan mense nou deur ’n moeilike tyd, maar ons moet probeer om nie ander se besluite te oordeel as ons nog nie in hulle skoene was nie,” deel hy oor hierdie pop-rocksnit wat deur Juan Boucher en Adriaan van der Merwe geskryf is. “Die liedjie is vir my baie spesiaal met ’n sterk boodskap en ’n lekker opgewekte melodie. Ek dink mense moet meer probeer om mekaar te ondersteun en motiveer, as om te oordeel.”

Maak jou Maak(e) wat in 2020 vrygestel is en ook op die album verskyn is uitstekend deur die publiek en radiostasies landswyd ontvang. Dit het vir maande lank bo-aan die trefferparades van stasies gepryk en die musiekvideo is ook gereeld op die kassie te sien.

Jan Rhaap (37), oftewel Werner Burger, woon tans in die Noordkaap saam met sy gesin. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, help hy sy pa en ouboet boer net buite Niekerkshoop; ’n klein dorpie tussen Griekwastad en Prieska. Vorige suksesvolle treffers sluit in Huisie in die Bos, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het en waarvan die video reeds meer as 2.9-miljoen kyke op YouTube gehad het, en Ramskilpad wat op verskeie treffersparades gepronk het en ook reeds deur meer as 300 000 mense gesien is.

Sy musiek is eerlik, eenvoudig en opreg.

“Ek dink omdat ek self skryf sal my musiek altyd uniek wees, want niemand skryf en interpreteer dinge ooit dieselfde nie. ‘ELMBOOG NA BO’ is versameling van betekenisvolle lirieke met ’n sterk boodskap en lekker kuiermusiek,” sê Jan.

LYS VAN SNITTE:
1. Maak jou Maak(e)
2. Afrikaans, my kind
3. Kom Loop
4. Elmboog Na Bo
5. Jan Ek Kan Nie Dans Nie
6. As My Hart Nou Ophou Klop
7. Ry-ry Dagdroom
8. As Ek Jou Soen In Jou Hart
9. Afrika
10. Adrenalien
11. Poublou
12. Vuis Teen Jou Bors
13. Ons Kan Nie Breek Nie

Die album is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Laai dit hier af: https://lnk.to/fopHYMr7

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/janrhaap/

Instagram: @janrhaap

Twitter: @janrhaap

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *