Die langverwagte rolprent, THE FATHER, wat pas benoem is vir ses gesogte Oscar-toekennings, ses BAFTA-toekennings asook twee Screen Actors Guild (SAG)-toekennings, open vandag, 26 Maart 2021 in plaaslike bioskope landswyd.
THE FATHER is gebaseer op ’n verhoogstuk met dieselfde naam wat deur Florian Zeller geskryf is. Dit is in 2012 in Parys vrygestel en het die Moliere-toekenning vir Beste Verhoogstuk gewen, voordat dit ewe goed ontvang is in New York se Broadway-teater en Londen se West End. Hierdie rolprent is Zeller se eerste poging as regisseur hy het die draaiboek saam met sy kollega en vertaler, Christopher Hampton, geskryf.
Dit vertel die verhaal van ’n middeljarige dogter wat besig is om haar geduld te verloor met haar pa – ’n stoute, onafhanklike ou man, wat besig is om tred met realiteit te verloor en weier dat ’n versorger na hom omsien. Sy moet trek en moet daarom iemand kry om na hom om te sien. Hy, wat in die beginstadium van demensie ly, probeer sin maak van sy veranderende omstandighede en begin in sy geliefdes, verstand en realiteit twyfel.
Die verhaal word doelbewus vertel deur die oë van Anthony, die bejaarde pa, wie se lewe ’n bron van nimmereindige gedisoriënterende verwarring geword het, met die karakters en plekke wat voortdurend verander en daartoe lei dat die kyker so verward voel soos Anthony. Dit is disoriënterend en surrealisties, maar dit spreek boekdele oor ’n lewe met demensie.
Die rolprent is gebou op empatie en vier die onbreekbare band tussen ouers en kinders. THE FATHER is ’n akkurate en ontstellende vertelling wat beide kante van die situasie onder die vergrootglas plaas – hoe dit voel om lief te wees vir iemand met demensie en hoe dit voel om met hierdie toestand saam te leef. Dit wys op ’n hartroerende manier wat gebeur wanneer ’n verhouding, wat al vir dekades bestaan, skielik onherroeplik verander.
Die rolprent word plaaslik deur Filmfinity Edms (Bpk.) versprei en het reeds die gesogte Gehoorgunsteling-toekenning ingepalm by die San Sebastian-rolprentfees.
Die drie-en-negentigste Oscar-toekennings sal op 25 April, tydens ’n lewendige internasionale televisie-uitsending, aangekondig word terwyl die BAFTA-toekennings en die Screen Actors Guild (SAG)-toekennings onderskeidelik op 11 en 4 April aangekondig sal word.
Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=OFnoRaLAclg
SOSIALEMEDIASKAKEL
Facebook: https://www.facebook.com/TeamFinityZA/
Krediet: Filmfinity (Pty) Ltd.