Spits jou ore, want die Pretorianer, Stefan Jansen se eerste enkelsnit, VERDIENSTE EN GENADE, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die liedjie is pas vrygestel en reg om die radiogolwe oor te neem. Dit spog met ’n verfrissende kontemporêre klank en opregte hartslirieke waarby luisteraars aanklank vind.
Dié sangsensasie se dinamiese lekkerluister-stem is die perfekte pasmaat vir hierdie emosionele liefdestreffer uit die kunstenaar se eie pen.
VERDIENSTE EN GENADE is ’n baie persoonlike liedjie wat gaan oor die sanger se liefdesverhouding met sy meisie. Hulle vriendskapsverhouding van die afgelope vyf jaar en sy skuldgevoelens oor hoe dinge op ’n stadium skeefgeloop het, het hom gedryf om sy gevoelens aan haar te openbaar en haar te vra om hom te vergewe. Dit is eers in Engels geskryf en opgeneem as Song of Silence, waarna Robin Walsh hom geïnspireer het om dit na Afrikaans te vertaal.
“Dit gaan oor die pad wat ek en my meisie al saam gestap het. Ek het nie van die begin af gesien watter waarde sy tot my lewe voeg nie en ons was vir ’n rukkie lank net vriende,” vertel hy. “Op ’n stadium, het ek besef dat ek haar in my lewe nodig het en nie as vriendin en maat wil verloor nie, al sou dit beteken dat ek my liefde uiteindelik aan haar moes verklaar. Ek het oop kaarte met haar gespeel en sy het my vergewe; nie uit verdienste nie maar alleen uit genade.”
Die snit, wat letterlik oornag geskryf en die volgende oggend opgeneem is, se meesleurende wysie sal jou nie net lus maak om jou meisie nader te trek vir ’n rukkie nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.
“Hierdie is my eerste Afrikaanse liedjie en ek het nie kans gehad om ’n storie uit te dink nie. Die inhoud is die suiwer waarheid,” verduidelik die musikant. “Ek dink dat baie mense daarmee sal kan vereenselwig. Almal was al op ’n plek waar hulle iets gekry het uit blote genade. Almal weet hoe liefde voel en almal het soms vergifnis nodig.”
Hy was nog altyd versot op musiek en was in graad-10 deel van ’n Punk-musiekgroep op skool, maar dit het nie lank gehou nie. Nou lag hy daaroor en sê: “Niemand van ons kon regtig sing destyds nie. Dit het ons einde beteken. Nou sing almal van ons redelik goed. Tydsberekening is alles!”
Dit was egter waar die musiekgogga hom behoorlik gebyt het en hy sy pa gevra het om hom ordentelik te leer kitaarspeel. Wat begin het as kampvuurmusiek in die bosveld, het gou gegroei na betaalde solo-optredes by restaurante en kroeë vir sakgeld in Pretoria waar hy gaan Regte studeer het. Later het hy deel geword van die Gobabis Band, saam met wie hy steeds musiek maak.
Oor die jare, het hy die verhoog saam met verskeie groot name gedeel, waaronder Jan Blohm, Valiant Swart, Justin Serrao, Crash Car Burn en Anton Goosen. Hy het ook die voorreg gehad om in 2018 by The Parlotones aan te sluit as deel van hulle twintigjaarherdenkingtoer in Europa en om aan die begin van 2020 sy musiek in Switzerland te gaan bemark.
Die sanger, wat groot geword het in Bronkhorstspruit, verklap dat hy mal is daaroor om na betekenisvolle akoestiese musiek te luister en dat hy ook groot bewondering het vir ’n verskeidenheid intenasionale musikante en musiekgroepe soos Foo Fighters, Elton John, Paul Simon, Bob Dylan, Leonard Cohen, Joshua Kadison, Foy Vance en Freddy Mercury, terwyl hy plaaslik graag saam met name soos Laurika Rauch, Hunter Kennedy, Valiant Swart en Danie du Toit (Spoegwolf) sou wou werk. “As ek my gunsteling-musiek moet opsom sou ek sê dit sou organies, eg en eerlik wees. Liriekgedrewe musiek is vir my belangrik, maar ek vang myself baie uit net na die musiek luister, en andersom,” deel hy.
As hy nie ’n musikant was nie, sou hy graag akoestiese kitare wou bou en verkoop; ’n vaardigheid wat hy graag in die nabye toekoms wil bemeester, aangesien hy reeds ’n gekwalifiseerde kitaartegnikus ook is.
Maar vir nou is sing sy grootste fokus en werk hy hard aan nuwe Afrikaanse liedjies, lewendige optredes en regsake om die pot aan die kook te hou.
“ALMAL WEET HOE LIEFDE VOEL EN ALMAL HET SOMS VERGIFNIS NODIG,” SÊ STEFAN JANSEN OOR SY EERSTE ENKELSNIT en vandag gesels ons met Stefan om meer uit tevind oor sy nuwe enkelsnit en wat ons nog van hom kan verwag!
ALMAL WEET HOE LIEFDE VOEL EN ALMAL HET SOMS VERGIFNIS NODIG is hoe jy jou nuutste enkelsnit beskryf. Waaroor gaan “Verdienste en Genade”?
Dis ‘n liedjie vir my mense. My mense verstaan dat ware liefde nooit werklik verdien word nie. Dis nie iets waarvoor jy vra nie. Dis nie iets wat jy kan afdwing nie. Dis alles uit genade. In elke verhouding kom daar tye wat minder goed gaan, en in tye soos daardie is genade bitter belangrik. As ons elkeen ons medemens gehou het by streng reëls en regulasies oor wat ons voel ons verdien, het geen verhouding ooit oorleef nie. Daar kom tye wat mens moet sê “ek weet ek kan ontsteld wees oor hierdie ding, maar ek gaan nie, bloot omdat ek eerder sal lief wees vir hierdie persoon en hom of haar nie wil straf nie”. Dit noem mens genade.
Watse boodskap hoop jy sal mense uit jou nuwe enkelsnit kry?
Vergifnis is moeilik, maar daar gaan ‘n tyd kom wanneer jy vergifnis nodig het en wat jy gaan hoop en bid iemand sal jou vergewe. Dis ‘n ding wat om en om en om gaan. Liefde aan die een kant, vergifnis aan die ander. Dis iets wat ons almal moet leer gee. Om kwaad en haat te dra maak jou las swaarder as wat dit moet wees.
Wie was jou inspirasie gewees vir Verdienste en Genade?
My meisie. Die hele liedjie is ‘n “ware verhaal”. Ek sê dankie in die liedjie dat ek vergewe is vir die foute wat ek gemaak het. Ek sê elke dag dankie daarvoor en ek prober daardie genade weer vir my medemens gee.
Die lied is letterlik oornag geskryf. Hoe it alles aanmekaar gekom toe jy begin skryf het?
Ja nee kyk… Alles het baie vinnig gebeur! Ek het ‘n Engelse weergawe van die lied geskryf in April 2020 net nadat die inperking my forseer het om by my huis te gaan skuil. Ek het besluit om die lied op te neem saam met Robin Walsh, en die proses het begin! Om dag 1 het ons die dromme en bass kitaar opgeneem. Die oggend van dag 2 het ons my akoestiese kitaar opgeneem.
Toe ons, die middag van dag 2 begin met my stem, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat die lied baie persoonlik is, meer as wat ek beplan het aanvanklik, en dat die mense wat ek wil hê die liedjie moet hoor, meestal Afrikaans is. Omdat dit so persoonlik is, en ek is immers Afrikaans, het ons besluit om die lied oor te skryf in my moedertaal. Ek het 18h00 daardie middag by die huis gekom en dadelik begin skryf. Ek het besluit om nie die Engelse weergawe te vertaal nie, maar om eerder die hele bestaan van die lied en al die emosies wat daarmee saam gaan, weer op te roep en te skryf hoe ek voel oor die hele verhaal soos dit besig was om af te speel voor my oë.
Ek het 2 ure geslaap daardie aand, en teen 11h00 daardie volgende oggend was die liedjie klaar opgeneem. Dit was MAGIC! Soos ek nou terug luister kan ek nie help om te voel dat daar ‘n groter krag agter hierdie liedjie is nie, want ek voel nie of ek dit alleen kon doen nie…
Die is ook jou eerste Afrikaanse lied. Kan ons nog Afrikaanse musiek van jou verwag in die nae toekoms?
O ja definitief! Die tweede en derde lied is klaar geskryf… hierdie keer nie oornag nie! 😄
Waar het jy jou pasie vir musiek vanaf gekry? Kan jy onthou hoe jonk jy was toe jy dit besef het?
Ek was 16. My pa het vir my ‘n akoestiese kitaar gekoop en ek het begin kampvuur musiek speel. Van daar af was dit vir my baie duidelik dat dit die enigste ding is was my onderskei het van my vriende en mense om my. Die kitaar en my musiek het my ‘n identiteit gegee. Hoe stap mens weg van so iets af?
Hoe gaan jy jou sukses vier as jou lied op alle radio stasies is?
Ek gaan met ‘n kitaar klim op die hoogste berg wat ek kan kry met die min petrol in my kar, en ek gaan kliphard dankie skreeu vir die hele wêreld op die deuntjie “We Are The Champions”! 😉
Het jy enige woorde van hoop en inspirasie vir ons jeug wat graag in jou voetspore will volg?
Ek sien myself nie as ‘n wyse man of ‘n besonderse talentvolle mens nie. Ek weet net dat ek my kanse gebruik het, en ek het kliphard gewerk om te kom waar ek nou is. Daar is nog bitter baie werk wat voorlê, maar as jy iets met passie aanpak gaan amper niks jou stop nie.
Die oomblik as jy ophou glo in jouself moet jy stop waarmee jy besig is en ‘n ernstige chat hê met jouself in die spieël. Jy is 100% definitief tot meer in staat as wat jy dink. Al wat jy nodig het is guts en ‘n plan!
Stefan Jansen glo dat musiek opreg en eerlik moet wees… en daarom sing hy graag oor hoe hy die wêreld sien. VERDIENSTE EN GENADE gaan nie net ’n treffer onder verliefdes en op die treffersparades wees nie, maar is ook die begin van ’n baie belowende solo-musiekloopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/StefanJansenMusic/
Instagram: @stefan.jansen.music
Luister na VERDIENSTE EN GENADE hier:
https://www.youtube.com/watch?v=u3RV3oMASxc
VERDIENSTE EN GENADE sal binnekort op alle digitale platforms beskikbaar wees.
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES