Die gewilde duo, Frank and I, het besluit om ’n spesiale lied vir die land te skryf, in ’n poging om vir mense hoop te gee en Suid-Afrikaners te verenig.
ONS SAL WEER OPSTAAN (Bloed In My Are) is ’n alternatiewe pop-rocksnit uit dié manne, Johan Brits en Frank Furniss, se eie pen en kan beskryf word as die kreet wat elke Afrikaner se hart uitskree sonder dat hulle dit regtig besef.
“Jy bevind jouself gereeld in geselskap waar mense praat oor die land en politiek en dan sluit hulle die gesprek af met ’n voorspelling. Wat is joune? Ons sien ’n land wat weer gaan opstaan. ’n Volk wat afhanklik gaan wees van ons Hemelse Vader en dis waaroor hierdie liedjie gaan,” sê die paar oor die inspirasie agter hulle tweede enkelsnitvrystelling. “Die woorde is baie opbouend en ons glo die lied is ’n profetiese boodskap en kreet oor ons nasie.”
Die musiekvideo, waarvan hulle die beeldmateriaal self met ’n iPhone opgeneem het, is al meer as 17 000 keer net op YouTube alleen gekyk en sal ook binnekort op die kassie te sien wees. Die video is op verskillende plekke in en rondom die Kaap opgeneem, en sluit dit tonele in wat die boodskap van die liedjie vasvang en hoop gee. “Ons skryf net ’n liedjie as ons ’n boodskap het om oor te dra, so die video was eintlik maklik gewees. Omdat ons in die Kaap bly, was daar baie plekke waar ons kon skiet en ons het sommer die naastes aan ons gebruik,” vertel hulle.
ONS SAL WEER OPSTAAN volg in die voetspore van hulle trefferlied, All We Need Is Love, wat hulle internasionaal onder die naam Frank, Billy and I uitgereik het. Hierdie lied is saam met die liedjieskrywer, Billy Falcon, geskryf en gesing en het die aandag getrek van die internasionale superster, Bon Jovi, wat so beïndruk was met hulle musiek dat hy dit via Twitter met sy aanhangers gedeel het en aangebied het om vir ’n jaar lank hulle bestuur in Nashville te betaal. Covid-19 het egter ’n demper op hulle planne geplaas en dit is vir eers op ys gesit, maar hulle sal binnekort te planne weer in aksie stel en hierdie ongelooflike geleentheid ‘n realiteit maak.
Frank and I is gestig nadat Johan en Frank vriende geraak het tydens musiekgeleenthede in die Kaap, waarby albei opgetree het en sedertdien het dié duo nog net van krag-tot-krag gegaan. Hulle het nie net verskeie vertonings in Nashville gedoen nie, maar ook die verhoog gedeel met groot plaaslike name soos Jo Black, Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr, Nianell, Prime Circle, Johnny Clegg, Retief Burger, Elvis Blue en vele meer.
Johan Brits (die I in Frank and I) werk al vir twaalf jaar in die musiekbedryf en beskryf homself as grappige, liefdevolle mens. Hierdie nege-en-twintigjarige Kapenaar is al versot op musiek vandat hy klein is en het na skool vir ’n jaar lank Musiek studeer.
Hy is ’n bekende sanger, liedjieskrywer en lofprysingsleier in die plaaslike Gospelbedryf en het al by verskeie Gospel Skouspel vertonings opgetree, asook liedjies geskryf vir kunstenaars soos Rouchelle Liedemann, Desmond Wells, Hugo Nieuwoudt en vele meer.
Frank Furniss is nege-en-dertig en is al amper vir twintig jaar doenig in die musiekbedryf. Hy woon tans in Paarl en het na skool in Pretoria en Stellenbosch Musiek studeer.
Hy is ’n talentvolle kitaarspeler, vervaardiger, liedjieskrywer, lofprysingsleier en sanger en het al die voorreg gehad om saam met internasionale sterre soos Will Smith, Queen, Annie Lennox en Katie Melua te werk. Plaaslik het hy ook al vir verskeie groot name kitaar gespeel.
Die musiekpaar is tans besig om aan ’n album te werk wat hulle graag wil saamvat Amerika toe en het nog baie planne en drome toekoms, soos om saam met internasionale groepe soos U2 en Coldplay te werk.
Hulle wens is om mense, regoor die wêreld, positief te beïnvloed met hulle musiek en met ’n liedjie soos ONS SAL WEER OPSTAAN is hulle beslis op pad om hierdie doelwit te bereik.
ONS SAL WEER OPSTAAN is nou op alle digitale platforms beskikbaar.
Kry dit hier: https://music.apple.com/us/album/ons-sal-weer-opstaan-bloed-in-my-are-single/1579330124?uo=4&app=itunes
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/frankandimusic/
Twitter: @frank_and_i_music
Webblad: www.frankandimusic.com
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCfWGvKrR72E-CRm6l1Cru5g