EK BAKLEI VIR JOU – DAVID & BIANCA

Die lieflingpaartjie, Bianca Le Grange en David Johnson, het beslis geen bekendstelling in vermaakkringe nodig nie. Hierdie dinamiese duo is gewoond daaraan om saam te werk en het pas ’n splinternuwe enkelsnit uitgereik.  EK BAKLEI VIR JOU is ’n Afrikaanse popsnit wat gaan oor verlief wees en hoe ’n mens mekaar moet ondersteun en vir mekaar moet baklei wanneer jy in ’n verhouding is.  

Hierdie liedjie, uit die pen van Theunis Duvenage, het dadelik aanklank gevind by die paartjie wat binnekort hulle vyfde huweliksherdenking vier. “Dit is ons vyfde huweliksherdenking in Desember. EK BAKLEI VIR JOU het baie spesiale betekenis vir ons, omdat dit ons inspireer om nooit op te gee op ons liefde nie en saam ons drome te volg,” sê Bianca. 

Die paartjie, wie se unieke stemme mekaar perfek komplementeer, glo dat hierdie vrolike, goedvoel snit gewild gaan wees onder oud en jonk.  

Die musiekvideo van die enkelsnit is ook reeds beskikbaar en is deur DWB Produksies (’n produksiehuis wat videos en inhoud vir die korporatiewe mark, sowel as die vermaak- en toerismebedryf vervaardig), wat Bianca en David gedurende grendeltyd gestig het, vervaardig en vang ’n paartjie se herinneringe vas van toe hulle net ontmoet het.  

“Die oorspronklike idee om tieners te gebruik om die storie te vertel uit die oogpunt van skoolliefdes, was David s’n,” verduidelik Bianca. “Ons het die idee gebruik, maar besluit dat die tieners jonger weergawes van onsself moes verteenwoordig.” Die paartjie het by Thabo Eco Hotel, die Glen-winkelsentrum en ’n tennisbaan naby hulle huis verfilm om lewe te gee aan hulle storie. 

Kyk die musiekvideo hier:

Alhoewel Bianca en David albei suksesvolle kunstenaars in eie reg is – beide is gevestigde vermaaklikheidskunstenaars, dansers, musikante en akteurs – het hulle ook al gereeld die verhoog en skerm met mekaar gedeel. Hulle lys juis die geleentheid om saam deur Suid-Afrika te toer as deel van hulle program, Vakansietyd/ Destination Vacation, as een van die hoogtepunte van hulle altwee loopbane.

Bianca het reeds op ’n jong ouderdom begin sing, maar dit was eers na haar deelname aan Idols SA in 2002 wat haar musiekloopbaan regtig vlam gevat het. Die Ek Verlang-ster hou van Jazz- en klassieke musiek en het by die Nasionale Skool vir die Kunste studeer, waar sy die klavier en viool bemeester het.

David het weer grootgeword met kletsrymmusiek en is lief vir slim lirieke. Hy was ook mal daaroor om te sing toe hy klein was en was selfs op universiteit in die musiekgroep, Polaroid, voordat hy ernstig op toneelspel begin fokus het. 

Dit is algemene kennis dat ’n loopbaan in die vermaakbedryf baie uitdagings kan bied en dié paartjie is konstant besig om nuwe manier te vind om kreatief en geïnspireerd te bly. Bianca het, byvoorbeeld, ook begin toneelspeel, terwyl David – wat ’n gewilde gesig op die kassie is in sepies soos Getroud met Rugby en 7de Laan – musiek as ’n kreatiewe uitlaatklep gebruik.

“Om suksesvol te wees in die vermaakbedryf, moet jy in jouself glo en aanvaar dat nie almal van jou gaan hou nie,” sê hulle. “Selfvetroue in die vermaakbedryf is ’n dun lyn wat jy moet loop – om nie parmantig oor te kom as jy in jouself glo nie en ook nie te nederig te wees oor you talent nie.”

EK BAKLEI VIR JOU is nou beskikbaar op alle aanlynplatforms. 

SOSIALEMEDIASKAKELS: 

DAVID JOHNSON

Facebook: https://www.facebook.com/David-Arnold-Johnson-151675161561686/ 

Instagram: @whatdavidsaw

BIANCA LE GRANGE

Facebook: https://www.facebook.com/biancalegrange22/ 

Instagram: @Bianca_le_Grange

Twitter: @biancalegrange

YouTube: Bianca Le Grange

SoundCloud: Bianca Le Grange 22

 

PUBLISITEIT EN BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

 

Foto krediet : Deon Coetzee

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *