As jy al tot vervelens toe na liedjies soos All I want for Christmas is You of Jingle Bells geluister het en op soek is na iets nuut, is A DIFFERENT LITTLE CHRISTMAS dalk net wat jy nodig het!
Hierdie nuutskepping, uit die pen van die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Cindy-Louise, skep ’n tradisionele Kersfeestoneel – met ’n kersboom, stokkielekkers, sneeu en joligheid – maar met ’n onheilspellende en prettige kinkel.
A DIFFERENT LITTLE CHRISTMAS kombineer elemente van verskillende genres, van klassieke musiek tot industriële klanke, en is ’n opgewekte en energieke snit, met ’n effense geheimsinnige, speelse en sarkastiese ondertoon.
“Ek wou graag ’n Kersfeesliedjie skryf, sonder om die tradisionele pop-rigting te volg,” verduidelik die sangeres. “My man het my aangemoedig om ’n spookagtige element by die nuwe musiek te sit waarmee ek besig is. Tydens Halloween, het Tim Burton se ‘A Nightmare Before Christmas’by my opgekom. Dit het my geïnspireer om ’n ongewoonlike dramatiese liedjie vir die feestyd te skep.”
Die liedjie het verder ook baie spesiale betekenis vir die kunstenaar. “Dis ’n geskenk vir my man en ek het dit baie geniet om dit te skryf. Dit is kreatief en dramaties en baie anders as die goed wat ek gewoonlik skryf. Sy glo verder ook dat dit aanklank sal vind by gehore van alle ouderdomme. “Hierdie is die perfekte liedjie vir 2020. Kersfees gaan vanjaar anders wees as dit waaraan ons gewoond is. In plaas daarvan om hartseer te wees, moet ons eerder aanvaar dat dinge anders gaan wees en die beste maak van ’n slegte saak.”
Cindy-Louise sing al vir nege jaar, maar het eers ’n jaar terug die musiekbedryf amptelik betree.
Sy het op sestien begin met klavierlesse en in 2018 haar BA-graad in Musiek behaal. Omdat sy oorspronklik Opera en Jazz studeer het, het sy Nederland toe verhuis om haar Opera-studies voort te sit en ongekende musikale vryheid ontdek. Sy het toe begin om haar eie musiek te skryf, wat haar toegelaat het om haar eie styl te ontwikkel en met verskillende genres, emosies en stemtegnieke te eksperimenteer. Haar debuut-album, Humanity, is in Oktober vrygestel.
“Ek het musiek op skool geneem en ook verder in hierdie rigting gaan studeer. Maar ek het gesukkel om by die reëls en sillabiese struktuur te hou en wou altyd meer uitbrei en anders wees. Om my eie musiek te skep, het my gehelp om uiting te gee aan my kreatiwiteit en om myself te aanvaar. Dit laat my veilig voel, voer my weg na ’n nuwe wêreld en help my om die lewe vanuit ’n ander perspektief te benader.”
Wat inspirasie aanbetref, beskryf Cindy-Louise haarself as ’n spons. “Ek neem alles in en alles waarna ek luister het ’n invloed op my. Enigiets kan my inspireer om ’n liedjie te skryf – ’n emosie, ervaring of fliek…” Baie van haar liedjies spreek ook dieper sosiale of emosionele kwessies aan en sy hoop dat haar musiek sal help om bewusmaking hiervoor te skep.
A DIFFERENT LITTLE CHRISTMAS, met sy speelse wysie en skerp lirieke, sal luisteraars ongetwyfeld in ’n feestelike bui plaas. Die enkelsnit kan vanaf 11 Desember aanlyn afgelaai word.
Kry dit hier: https://lnk.to/ImFpwr1I
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/cindylouiseofficial/
Instagram: https://www.instagram.com/cindylouiseofficial/
Twitter: https://twitter.com/cindylouiseoffl
Website: http://cindy-louise.com/
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCZyMq57lYEd0omCjyyvp7JQ
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES